Staat wil aanklagte teen “Sondag-verkragter” sentraliseer

Johannes Jacobus Steyn tydens sy vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/SAPA

Johannes Jacobus Steyn, of die sogenaamde “Sondag-verkragter”, sal Woensdag in die Krugersdorp landdroshof verskyn waar al die aanklagte teen hom na verwagting gesentraliseer sal word.

Steyn het Kersfees agter tralies spandeer nadat sy saak op 13 Desember uitgestel is. Landdros Keith Page het beveel dat die toksikologie-verslag, wat nodig is om die lykskouingsverslag te voltooi, sowel as ʼn DNS-verslag vandag beskikbaar moet wees. Hy word aangekla van die ontvoering, verkragting en moord van Louise de Waal. De Waal is in Oktober verlede jaar ontvoer terwyl sy en ‘n vriendin op pad skool toe was in Randburg. Haar verkoolde lyk is dieselfde dag op ‘n verlate plaas in Magaliesburg gevind. Steyn staan tereg op 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering, ses van seksuele aanranding en ʼn klag van moord. Die “Sondag-verkragter” het verlede jaar na bewering twee skoolmeisies in Pretoria-Wes ontvoer. Die een meisie het glo uit die ontvoerder se bakkie gespring en is dood. Die ander meisie is verkrag. Die “Sondag-verkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.