Staatsamptenaar se dogter het groot tender gekry

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Tender van R7.7 miljoen is aan ʼn 23-jarige student toegeken om kos aan skole in Limpopo te verskaf. Sy ontken dat haar ma se seniorpos in die provinsie se departement van onderwys iets daarmee te doen het, het die City Press Sondag berig.

“Ek het die tender gekry omdat ek aansoek gedoen het,” het Mmaseala Kekana aan die koerant gesê. Sy wou nie enige verdere vrae beantwoord nie.

Haar ma is Lily Kekana, die departement se spesialeprojekte-bestuurder wat verantwoordelik is vir voedingsprogramme by skole.

Mmaseala was 23 jaar oud en ʼn student aan die Universiteit van die Vrystaat toe sy haar maatskappy, Mmarekhu Retail and Supplies, in 2010 registreer het. Die tender is ʼn paar maande later in 2011 aan haar toegeken om daagliks meer as 6 800 leerlinge in en rondom Mokopane (Potgietersrus) van kos te voorsien.

ʼn Tender van R5.6 miljoen is aan Lily Kekana se broer, Mabitsela Sebelebele toegeken om kos aan nege skole rondom Mokopane te verskaf.

“Ek het nie eers geweet waar sy werk nie. Ek het geweet sy werk vir die departement van onderwys, maar ek weet nie wat sy daar doen nie,” het Sebelebele aan die koerant gesê.

Lily Kekana het geweier om kommentaar te lewer aan City Press. Altwee kontrakte is twee keer verleng en verval aan die einde van Maart.

Phuti Seloba, woordvoerder van die departement, het gesê die tenders sal ondersoek word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eugenie ·

Sy wou nie verdere vrae beantwoord, hoekom nie ? Doen die ondersoek en gee terugvoer, dankie en dankie ook aan Maroela.

Jasper ·

Phuti Seloba, ons wag in spanning vir jou antwoord. Dis tyd dat al hierdie Soustreinryers se kaartjies geknip word.

JB ·

Wat se “ondersoek”? Ondersoekers net so korrup!! Geen haan gaan kraai nie!!! Hul kom met ALLES weg!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.