Staatsrede: “Beloftes maak skuld”

Piet le Roux

Piet le Roux

In afwagting van pres. Jacob Zuma se staatsrede het die vakbond Solidariteit Woensdag gesê dat hy graag minder beloftes vir groter besteding in die staatsrede wil sien. Die vakbond sal die staatsrede veral dophou vir die implikasies wat dit vir belastingbetalers, kulturele minderhede en werksekerheid inhou.

Volgens Piet le Roux, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kan die staatsrede nie in afsondering van finansieringsgevolge gesien word nie. “Beloftes maak letterlik skuld. Die feit is dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers onder hewige druk verkeer. Hoe meer pres. Zuma belowe om te doen en te bestee, hoe meer sal die druk op die belastingbetalers oplaai – en uiteindelik ook in toenames in die Suid-Afrikaanse staatskuld neerslag vind.”

Le Roux wys daarop dat belastingbetalers se skeptisisme nie spruit uit ’n onwilligheid om tot die gemeenskaplike goeie by te dra nie. “Al is Suid-Afrikaners bereid om belasting te betaal in soverre dit in die openbare belang is, is hulle daarvan oortuig dat hul belastinggeld tans eerder die teenoorgestelde bereik. Met belastinggeld word ’n afhanklikheidstaat geskep; word kitsmiljoenêrs deur swartbemagtigingstransaksies geskep; word skadelike wetgewing deurgevoer en afgedwing; en word wet en orde ondermyn deur ras te verhef tot die belangrikste kriterium by aanstellings in die staatsdiens. Bowendien ondermyn die regering belastingbetalers se sake-ondernemings en hul werksekerheid, wat verdere druk plaas op laasgenoemde se vermoëns om hul finansiële verpligtinge na te kom.”

Le Roux het positief gereageer op die aankondiging dat die staatsrede vanjaar terselfdertyd in 11 tale beskikbaar sal wees. “Dit is belangrik om telkens te beklemtoon dat die bevordering van die gedeelde belange van alle Suid-Afrikaners saamhang met die erkenning van hul kulturele verskeidenheid.” Le Roux meen egter dat hierdie kopknik na kulturele diversiteit ’n skerp kontras vorm met die ondermyning van kulturele diversiteit op vele ander terreine in Suid-Afrika, soos op onderwysgebied, waar die regering druk plaas op organisasies om die nasionale rassesamestelling te weerspieël. “Dit sal interessant wees om te sien hoe die veeltaligheid van die staatsrede met die inhoudelike implikasies van die staatsrede vergelyk.”

Solidariteit sal na afloop van die staatsrede ’n opvolgverklaring uitreik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.