Staatsrede: “Miljarde word spandeer terwyl Jan Alleman die rekening moet delg”

President Jacob Zuma tydens die staatsrede vir 2014. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma tydens die staatsrede vir 2014. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma se staatsrede dui op groeiende staatsbetrokkenheid in Suid-Afrika se ekonomie. Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, is eskalerende besteding op staatsinfrastruktuur en onregverdige bevoorregting die ekonomiese fokus van die president se toespraak.

Die verdere ontwikkeling van Suid-Afrika se infrastruktuur is van kardinale belang vir land se volgehoue ekonomiese groei. Gegewe die huidige swak ekonomiese klimaat dui die beoogde besteding op infrastruktuur dat Suid-Afrikaners ʼn skerp styging in belasting en administratiewe koste (bv. e-tol) te wagte kan wees.

In teenstelling met die grandiose infrastruktuurplanne is dit duidelik dat die regering nie die erns van die opstande oor dienslewering begryp nie. Pres. Zuma se mening dat die huidige opstande die gevolg van beter toegang tot dienste is, dui op ʼn groot afgrond tussen die regering en gewone Suid-Afrikaner.  “Dit help veel as mense krane in hul huise het, maar a.g.v. wanbestuur geen water daaruit kan tap nie”, het Jansen van Rensburg gesê

Die beplande uitbreiding van bemagtigingsbeleid om swart industrialiste te vestig, sal soos ander swart ekonomiese bemagtiging, slegs ʼn klein elite bevoordeel. Die uitdagings wat swart industrialiste in die gesig staar soos finansiering, toegang tot markte en tegniese bystand is nie ʼn unieke verskynsel nie.

Volgens Jansen van Rensburg is die poging om individue, wat waarskynlik nie arm is nie, deur rasgebaseerde beleid te bevoordeel onregverdig en diskriminerend.

Uit die staatsrede was dit duidelik dat die president werksgeleenthede anders definieer as die miljoene werkloses. Die sg. honderde duisende “geleenthede om te kan werk” wat die afgelope jaar deur die staat geskep is, is nie volhoubaar nie. Deur woordspeling is die president besig om verwagtings te skep waaraan die staat nie kan voldoen nie.

ʼn Positiewe wending was die aankondig dat die administrasie en bestuur van die Konstitusionele Hof apart van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling sal funksioneer. Dit sal voordelig wees vir die beginsel van die skeiding van magte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.