Staatsrede: Snuffelhond ondersoek verdagte voertuie

Pres. Zuma het Woensdagmiddag in Kaapstad met ‘n paar matrikulante vergader ter voorbereiding op sy Staatsrede Foto: GCIS/SAPA

‘n Snuffelhond van die polisie is Donderdagmiddag gebruik om twee motors, wat onwettig buite die Parlement parkeer is, te ondersoek.

Die donkerbruin Rottweiler-hond is deur sy polisiehanteerder om ‘n blou Volkswagen Polo en rooi Toyota Corolla gelei om die motors te ondersoek. Beide motors het buite die Besoekersentrum, waar president Jacob Zuma Donderdagaand sy Staatsrede lewer, parkeer gestaan. Die polisie het ‘n patrolliemotor gebruik om die toneel te versper en ‘n joernalis, wat ondersoek wou instel, is versoek om die toneel te verlaat.

Die hond het nie enige tekens getoon dat daar enigiets verdag in die motors is nie, en is later in ‘n voertuig van die Kaapstadse honde-eenheid gelaai. Die bestuurder van die Volkswagen het later opgedaag en met sy motor weggery, maar die Toyota het steeds daar bly staan. Dié motor se regter voorwiel is geklamp.

Strate om die parlementêre gebied is gesluit vir Donderdagaand se Staatsrede. Die gebied het net voor 16:00 gewemel van polisiebeamptes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.