Stakende mynwerkers by Kumba afgedank

Stakende mynwerkers by Lonmin. Foto: Taurai Maduna/EWN

Sowat 120 stakende mynwerkers is by Kumba Iron Ore se Sishen-ysterertsmyn in die Noord-Kaap afgedank.

Gert Schoeman, woordvoerder van die myn, sê die onwettige stakers is afgedank aangesien hulle reeds vir sowat twee weke die myn beset en nie Maandagoggend vir dissiplinêre verhore opgedaag het nie. “Hulle is afgedank en strafregtelike klagte is teen hulle aanhangig gemaak. ʼn Groep stakers het egter die dissiplinêre verhore bygewoon en redes aangevoer oor hoekom hulle nie afgedank moet word nie.” Schoeman sê die myn het ook ʼn hofbevel gekry waarvolgens die stakers onmiddellik die perseel moet verlaat en enige toerusting wat in hul besit is, moet terug te gee. Die stakers het vroeër verskeie mynvoertuie van nagenoeg R3,3 miljard gekaap en ʼn verhoging geëis as losprys. Die werkers dring aan op ʼn bykomende salarisverhoging van R15 000 vir alle Kumba-werknemers. Schoeman sê bedrywighede by die myn is op 4 Oktober opgeskort en die maatskappy verloor sowat 120 duisend ton in produksie per dag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.