Stakende mynwerkers kom by Marikana-stadion byeen

Stakende mynwerkers by Marikana. Foto: EWN / Twitter

Stakende mynwerkers by Marikana. Foto: EWN / Twitter

Ontevrede Amcu-lede het Donderdagoggend stadig begin saamdrom by die Wonderkop-stadion vir die beplande staking by platinummyne in Noordwes.

ʼn Klein groep in die stadion het gedans en oor president Jacob Zuma en Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesing. “Hey wena, Zuma, Mantashe, hou op om idiote te wees,” het hulle gesing.

Lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) by Lonmin in Marikana, Anglo American Platinum (Amplants) en Impala-myne, dring aan op ʼn maandelikse intreesalaris van R12 500.

Die maatskappye het Dinsdag aangevoer Amcu se looneise is onbekostigbaar en onrealisties.

Impala Platinum het Woensdagaand se nagskof by sy myn in Rustenburg gekanselleer en sal só voortgaan terwyl Amcu se staking voortduur, het die myn gesê. Dit word gedoen om die risiko van geweld te verminder en die veiligheid van hul werknemers te verseker.

Die polisie in Noordwes het vroeër gesê Amcu-leiers moet seker maak dat die staking nie gewelddadig raak nie.

Brigadier Thulane Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê betogers word nie toegelaat om met openbare polisiëring in te meng nie. Hulle mag ook nie publieke eiendom beskadig of diegene wat werk toe wil gaan intimideer nie. “Polisiebeamptes sal na die gebied ontplooi word om te verseker dat die situasie vreedsaam en veilig is, maar die staking bly ʼn arbeidsaak en die polisie versoek alle stakende mynwerkers om die wet te respekteer,” het Ngubane gesê.

Hy het gesê die myne se bestuurders het ‘n plig om voldoende sekuriteit binne die grense van hul eiendom te verseker vir diegene wat aan diens is.

Altesaam 44 mense is dood tydens ‘n gewelddadige staking by Lonmin se Marikana-myn in Augustus 2012. 34 is op 16 Augustus, 2012 dood tydens ʼn skermutseling met die polisie. Nog 10, waaronder twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte, is in die voorafgaande week vermoor.

SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JB ·

Jy kan hul duisende rande betaal, maar staak sal hul staak. Dit is nou maar in hul bloed/tradisie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.