Die vakbond Solidariteit het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) se voorneme van ʼn moontlike staking in die goudbedryf. ʼn Staking kan die reeds wankelrige bedryf lamlê. Amcu het te kenne gegee dat hy in die goud- en platinumbedryf wil staak.
Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê Amcu het ʼn baie lae profiel gehandhaaf tydens verlede jaar se goudonderhandelinge wat op ʼn skikking tussen die Kamer van Mynwese, Solidariteit, die NUM en Uasa op 10 September 2013 uitgeloop het. “Amcu het in hoofsaak die onderhandelinge en ondertekening van die ooreenkoms geboikot. Hierdie goudooreenkoms is teen einde September 2013 geïmplementeer en alle goudmynwerkers ervaar reeds die voordeel daarvan. Dit het ook tot meer stabiliteit in die goudbedryf bygedra, afgesien daarvan dat talle afleggingskonsultasies nog aan die gang is.”
Du Plessis sê ʼn verdere staking in die goudbedryf is dus nie in belang van Amcu en sy lede of van die volhoubaarheid van die bedryf in die geheel nie en kan verdere afleggings tot gevolg hê. “Ons is bekommerd oor die werksekerheid van Amcu se lede omdat ʼn staking in die goudbedryf onbeskermd kan wees en dit duisende mynwerkers en hul gesinne se toekoms in gevaar kan stel.”
Hoewel ʼn beskermde staking in die platinumbedryf ’n grondwetlike reg is, betaal die intreevlak-mynwerkers ʼn baie hoë prys vir ʼn staking weens die “geen werk, geen betaling”-beginsel en dit terwyl duisende arm huishoudings reeds gebuk gaan onder ʼn erge skuldlas van die afgelope 18 maande se arbeidsonrus. Daar is gelukkig nog tyd vir die partye om mekaar hierdie week te vind en ʼn verloor-verloor situasie te vermy.
Ons land (en die wêreld) se ekonimie is al klaar so swak. Nou wil hulle al weeeer staak. Wanneer gaan hulle eendag verstaan dat om te staak nie die oplossing is nie? Dat hulle eintlik die ekonomie sodoende ‘lamlê’?