Staking in die motorbedryf

BMW-aanleg in Oostenryk

Sowat 31 000 Numsa-werkers in die motorbedryf het Maandag begin staak nadat loononderhandelings verlede maand ‘n dooie punt bereik het.

“Werknemers in die bedryf dring aan op ‘n 14% algemene verhoging en 100% betaling indien die werkgewer ‘n korttermyn of tydelike ontslag ingestel het,” het Alex Mashilo, hoof onderhandelaar van die National Union of Metalworkers of SA (Numsa), gesê.

Mashilo sê die korttermyn of tydelike ontslag is van toepassing wanneer logistieke probleme in die verskaffing van onderdele plaasvind en werknemers slegs ‘n brief ontvang om huis toe te gaan. Werknemers ontvang glo in dié tyd geen salaris nie totdat die onderdele die aanleg bereik en hulle weer ingeroep word werk toe.

“Werkers is moeg daarvoor om huis toe gestuur te word wanneer die logistieke stelsel ‘n probleem ondervind en hulle nie salarisse ontvang nie. Dié werknemers het nie ‘n ander inkomste nie, so hulle moet betaal word wanneer die maatskappye hulle op ‘n korttermynbasis of tydelike basis ontslaan,” het Mashilo gesê. “Dit is nie hulle skuld dat die verskaffing van onderdele nie die aanleg bereik nie.”

Die werknemers dring ook aan op ‘n behuisingsubsidie van R750 en vervoertoelaag van R125 per week.

Marathon-onderhandelings om die staking te verhoed het in Mei begin en tot in Julie voortgeduur. Die twee partye kon egter nie ‘n ooreenkoms bereik nie. Sedert Julie was verdere onderhandelings ook onsuksesvol.

“Ons is steeds oop om die kwessies op te los. Daar is ruimte vir die werkgewer om ons te nader, maar totdat hulle ons nie kontak nie, sal die staking voortduur.”

Thapelo Molapo, voorsitter van die organisasie vir werkgewers in die motorbedryf (AMEO) het gesê die werkgewer en die vakbond kon hul verskille aandui sedert die onderhandelings in Mei begin het. “Ons het ongelukkig nou die formele onderhandelingsproses uitgeput, maar dit beteken nie dat onderhandelings nie kan voortgaan totdat ‘n oplossing gevind is nie,” het Molapo gesê. “Die oplossing gaan deur onderhandelings kom, nie deur ‘n staking nie.”

Die National Union of Mineworkers (Num) het gesê hy ondersteun Numsa se eise ten volle.

Maatskappye wat deur die staking geraak word sluit BMW, Nissan, Mercedes, Volkswagen, General Motors, Toyota, UD Trucks, en Man Truck and Bus in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.