Staking in petroleumsektor afgeweer

Die moontlikheid van ’n staking in die petroleumsektor is na meer as drie maande se onderhandelinge afgeweer, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê. Verlede jaar se staking in die brandstofbedryf het talle petrolpompe landswyd laat opdroog en grootskaalse paniek veroorsaak.

Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, is die hulp van ’n bemiddelaar ná twee onsuksesvolle rondes loononderhandelinge en ’n geskilronde in die nasionale bedingingsraad vir die chemiese bedryf (NBCCI) ingeroep. “Die onderhandelinge het aanvanklik vasgeval, aangesien werkgewers aangedring het op ’n driejaar-ooreenkoms terwyl vakbonde vir ’n eenjaar-ooreenkoms onderhandel het. ’n Bemiddelaar is na afloop van die geskilronde aangewys en het op versoek van die vakbonde en werkgewers ’n skikkingvoorstel vir die partye se oorweging opgestel. Die voorstel was ’n finale poging om ’n staking in die sektor af te weer, aangesien alle onderhandelingsopsies uitgeput was. Solidariteit se lede, die werkgewers en ander vakbonde het die voorstel aanvaar en sodoende die moontlikheid van ’n staking afgeweer.”

Croucamp het gesê die voorstel behels ’n tweejaar-ooreenkoms. Die werkgewers in die sektor bied vir vanjaar ’n 8%-verhoging, terugwerkend vanaf 1 Julie 2012, aan. Vir die tweede jaar bied hulle ’n loonverhoging van VPI (van April 2013) + 2%, met die voorwaarde dat indien die VPI na minder as 5% daal, die verhoging vir die tweede jaar nie minder as 7% sal wees nie en indien die VPI bo 8% styg, die verhoging nie meer as 10% sal wees nie. Sasol, PetroSA en Engen is van die grootste werkgewers in die petroleumsektor. Solidariteit verteenwoordig ongeveer 6 500 lede in die sektor.

In die glassektor van die NBCCI het die werkgewers na talle rondes onderhandelinge ’n finale loonaanbod van 7% gemaak. Onderhandelinge in dié sektor sal na verwagting volgende week afgehandel word. In die nywerheidschemikalieësektor van die NBCCI het die werkgewers ’n finale aanbod van 7,5% gemaak. Van die grootste maatskappye wat in hierdie twee sektore van die NBCCI val, is Consol Glass, PG Glass, Omnia en Foskor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.