“Star wars”-tegnologie: Darth Vader se laser word werklikheid

Die laser in aksie

Die laser in aksie

‘n Laser wat 100 000 keer soveel energie gebruik as wat al die kragstasies ter wêreld saam kan lewer, word nou ontwikkel.

Dié straal sal egter net ‘n baie klein breukdeeltjie van ‘n sekonde uitgestuur word. Hoewel dit vir vreedsame doeleindes ontwikkel word, het dit die bynaam “Death Star” gekry weens die ooreenkomste met so ‘n laser uit die gewilde rolprentreeks, Star Wars.

Die nuwe laser staan amptelik as die High Repetition Rate Advanced Petawatt Laser System (HAPLS) bekend en word in die Tsjeggiese Republiek gebou, maar met finansiering van die Europese Unie, en met die gekombineerde kundigheid van verskeie Europese navorsingsinstansies.

Meer besonderhede kan hier gelees word.

Intussen het Lockheed Martin onthul dat dié maatskappy ‘n laser van 30 kilowatt getoets het. Dié laser word as wapen ontwikkel. Die prestasie is behaal deur verskeie strale laserlig van verskillende golflengtes uit optiese kabels in ‘n samesteller te stuur, wat dan ‘n byna perfekte saamgestelde laserstraal uitstuur.

‘n 30 kilowat-kragopwekker is sterk genoeg om as bystandskragopwekker vir ‘n woonhuis te dien.

Dié tegnologie sal eendag as wapens op tenks en vegvliegtuie gemonteer word. Dit sal egter meer as drie keer so sterk soos die jongste toets wees voor dit in gevegshoedanigheid aangewend sal word. Dit kan uiteindelik as plaasvervanger vir missiele gebruik word.

Die projek is deel deur die Amerikaanse Weermag gefinansier, wat ook met Boeing saamwerk om lasertegnologie te ontwikkel.

Bronne: Lockheed Martin-nuusverklaring,  Mail Online, Gizmag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.