Steeds geen deelname oor hidrobreking deur Minerale-minister

Susan Shabangu

Susan Shabangu

Susan Shabangu, die minister van minerale hulpbronne het gister by die Investing in African Mining Indaba in Kaapstad gesê dat finale regulasies op skaliegasontginning binnekort bekend gemaak sal word. “Hierdie aankondiging is net nog ʼn voorbeeld van die minister se patroon om beloftes te verbreek wanneer dit oor openbare deelname gaan. Tot dusver het geen behoorlike openbare deelname oor skaliegasontginning in Suid-Afrika deur die regering plaasgevind nie, ten spyte van herhaalde versoeke van verskeie belangegroepe,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake gesê.

“Verskeie organisasies en individue het breedvoerige kommentaar gelewer oor die voorgestelde konsepregulasies oor skaliegasontginning, wat aan die einde van 2013 bekend gemaak is. Tot dusver was daar geen bespreking van die voorgestelde wysigings aan die regulasies nie. Die regulasies is op die standaard van die American Petroleum Institute gegrond. Die feit dat Suid-Afrika se wette berus op dieselfde standaarde wat so problematies in Amerika geword het, is ‘n bron van groot kommer,” het Kleynhans gesê.

“Minister Shabangu se verklaring (dat die regering daadwerklik maar verantwoordelik sal voortgaan met die eksplorasie van skaliegas, ten einde die moontlike voordele daarvan vir, onder meer, kostedoeltreffende energiesekuriteit, werkskepping en ‘n hele reeks ander moontlike voordele vir die land te benut) terwyl die onderskeie rolspelers en ander regeringsdepartemente uiteindelik behoorlike ondersoeke na skaliegasontginning van stapel stuur, is onverantwoordelik,” het Jeanie le Roux van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) gesê. “Die nuutste data dui daarop dat ʼn herhaling van die sogenaamde Amerikaanse ‘skalie-oplewing’ hoogs onwaarskynlik in Suid-Afrika en dwarsoor die wêreld is.”

AfriForum en TKAG is steeds daartoe verbind om saam met alle belangegroepe te werk om skaliegas wetenskaplik te evalueer binne die Suid-Afrikaanse energie-, omgewings-, sosiale en regstruktuur.

Ondersteun AfriForum se inisiatief vir ‘n volhoubare Suid-Afrika. SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grassie ·

Ek wonder hoeveel regeringsmense is nog in staat om hulle teen die skaliegasontginning uit te spreek. Getrou aan Afrika-tradisie het daar seker al `n hele paar onder-die-tafel-deur transaksies plaasgevind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.