Steers nou ook in Londen

Die Suid-Afrikaanse kitskoskettinggroep, Steers, gaan glo op 6 Julie sy eerste tak in Londen oopmaak.

Famous Brands se doel is glo om die handelsmerk in die Britse mark te vestig met sy eerste restaurant by Clapham Junction, berig thesouthafrican.com. “Ons het nog altyd gesê ons wil Steers in ʼn stadium uitvoer. Daar is heelwat Suid-Afrikaners wat in Brittanje bly, veral in die Clapham-gebied,” het Kevin Hedderwick, hoof uitvoerende beampte van Famous Brands, gesê.

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap het dié nuus met gemengde reaksie verwelkom. “Steers is sonder twyfel die beste burger in SA en moenie vergeet dat hulle ook die beste skyfies het nie!” het Jamie Harrington op Facebook gesê. “Hulle was altyd goed, maar dis deesdae niks spesiaal nie. Hulle staan nie ʼn kans in Londen se burgermark nie,” het ʼn gebruiker op Twitter gesê.

Die Famous Brands-groep, wat ook Wimpy, Mugg & Bean en Debonairs-konsessies in Suid-Afrika besit, is reeds deur die Wimpy-kettinggroep in Brittanje gevestig. Die maatskappy het dié kettinggroep in 2007 aangeskaf, berig thesouthafrican.com verder. Alhoewel Wimpy UK oor die afgelope paar jaar gesukkel het weens hoë arbeidskoste en laer verbruikersbesteding, bly Hedderwick positief. “Dis ʼn baie klein deel van ons besigheid met 1.2% van bedryfswins. Ons het die afgelope paar maande twee Wimpy-restaurante oopgemaak en ons wil vanjaar nog ʼn paar oopmaak. Die mark in die Verenigde Koninkryk lyk vir ons ʼn klein bietjie meer optimisties.”

Alhoewel Famous Brands uitdagings in die Verenigde Koninkryk beleef, groei hy sterk in Afrika, waar hy vanjaar reeds 55 restaurante oopgemaak het.

Steers Clapham Junction gaan glo 1 000 burgers weggee tydens sy openingsgeleentheid. Sluit aan by thesouthafrican.com vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.