Stellenbosch-brand: Mobiele toilette weer opgespoor

Foto deur die gebruiker Charlotte Rabie op Facebook gelaai

Mobiele toilette wat vermis geraak het by die Kayamandi informele nedersetting in Stellenbosch ná ‘n brand weggeraak het, is weer opgespoor.

“Ons is bly om te berig dat al die vermiste toilette weer opgespoor is. Die toilette het tussen ander plakkershuise in die gebied gestaan,” het Conrad Sidego, burgemeester van Stellenbosch, gesê.

Die munisipaliteit het Vrydag die mobiele toilette by die informele nedersetting afgelaai nadat ‘n brand sowat 4 500 mense dakloos gelaat het. Sidego het vroeër aan die Weekend Argus gesê plunderaars het die mobiele toilette gesteel. Hy het gesê 30 toilette is Vrydag afgelewer, maar teen Saterdag was daar slegs vyf oor.

Twee mense is in die brand, wat 1 357 plakkershuise vernietig het, dood.

“Die slagoffers van die brand sal geregistreer moet word en die inligting sal daarna teen die munisipaliteit se behuisingsdata gemeet word,” het Sidego gesê. Dakloses is van kos voorsien. “Spesifieke aandag word aan babas, kinders, mense met gestremdhede en bejaardes geskenk. 250 kospakkies is spesifiek vir die babas aangeskaf.”

Skoolklere word ook aangeskaf vir kinders wat deur die brand geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.