Sterfte by UJ: Verwag dat Afrikaans gaan weer ly

Ernstige voorvalle in Suid-Afrika waartydens mense beseer word of selfs doodgaan, word gewoonlik op iets of iemand geblameer en flou verskonings word verskaf. En in ons land is sondebokke volop. Die insident van Gloria Sekwana, die ma van ʼn 19-jarige voornemende student by die Universiteit van Johannesburg (UJ), wat dood is toe studente vir die registrasie probeer inbondel het, is ʼn sprekende voorbeeld daarvan. Die DA se skaduminister van hoër onderwys en opleiding, dr. Junita Kloppers-Lourens, het die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, vir die chaos geblameer en sê hy het nie ʼn groeiende probleem doeltreffend gepak nie. Blade het, wag vir dit, die verhoogde vraag na tersiêre onderrig, die hoër slaagsyfer en mense se aandrang op grade, eerder as ander mindere kwalifikasies, verkwalik. Die ANC-Jeugliga het die regering geblameer. Die studente het die universiteit geblameer. Die regering wil UJ laat ondersoek. En so gaan dit aan. . .

Maar ʼn artikel deur een van my ouddosente aan die UJ, dr. Piet Croucamp, in Rapport het my oor ʼn ander teiken laat wonder as die stof eers gaan lê het. Hy maak melding van die feit dat die UJ nie net in swart geledere as die toeganklikste universiteit beskou word nie, maar een wat jou selfs geldelik sal ondersteun. Dit word natuurlik versterk deur berigte dat Sekwana se seun steeds enigiets sal doen om by die UJ te studeer al is sy ma daar dood – en wel nou gratis daar gaan studeer as “vergoeding”. Indien mens hierdie situasie met die woelinge in die skoolsektor vergelyk, is daar een groot oënskynlike struikelblok vir swart studente en skoolleerlinge om beter toegang te verkry: Afrikaans as voertaal. En dit maak natuurlik ʼn gerieflike sondebok ook: Dis histories ʼn wit taal wat deur die voormalige onderdrukkers gepraat word, dis Europees van herkoms en nie ʼn wêreldtaal soos Engels nie.

Toe ek nog op universiteit by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) was en toe by die UJ, het ek eerstehands aanskou hoe ʼn instelling oornag kan verander en sy karakter feitlik heeltemal inboet. En dan is mense soos prof. Adam Habib, visekanselier van die UJ, verbaas dat Afrikaanse studente die UJ soos die pes begin vermy het. RAU is in my finale jaar van my graad saam met die wanfunksionele Wits Technikon (waar die Sekwana-treurspel verlede week afgespeel het) en die ewe swakkerige Vista-universiteit se twee kampusse op die Oos-Rand en Soweto saamgesmelt. Ek was deel van die laaste groep wat ons grade nog by die ou RAU verwerf het. In my honneursjaar het die UJ reeds drasties begin verander met die demografie van die Auckland Park-kampus wat handomkeer anders gelyk het en sekere kursusse se Afrikaanse klasse wat heeltemal afgeskaf is. Toegang was die belangrikste prioriteit en basta met ander prioriteite. ʼn Jong, liberale Afrikaanse dosent, wat intussen Australië toe geëmigreer het, het selfs studente wat nie hul take deur die loop van die semester betyds ingehandig het nie, kans gegee aan die einde van die semester om al die agterstalliges in te gee om toelating tot die eksamen te kry! Daar was ook nie meer Afrikaanse honneursklasse nie al kon ek gelukkig my take in Afrikaans doen. Al hoe minder Afrikaanse studente het UJ toe gegaan en die koshuise en daghuise het hul Afrikaanse karakter verloor. Die Afrikaanse personeel en dosente het op strepe bedank en is met hoofsaaklik swart personeel vervang. Dus, terwyl swart personeel die swart studente in Sotho en Zoeloe kan help, het Afrikaanse studente al hoe minder mense om hulle in hul taal by te staan (of selfs in goeie Engels) met registrasies en ander administratiewe probleme – dit het ek besef toe ek my meesters daar voltooi het en nou ook met my doktoraal daar besig is.

Of dit doelbewus of nie-opsetlik was, maak nie nou saak nie, maar hierdie situasie het weer eens gewys hoe Afrikaans, sy sprekers en die standaarde wat histories van histories Afrikaanse universiteite (HAU’s) verwag is, mettertyd misken is in die naam van politieke korrektheid en regeringsdruk. Croucamp vermeld ook in sy stuk hoe daar kop gekrap word by vergaderings oor hoekom Afrikaanse studente teruggelok kan word. Daar kan maar kop gekrap word want in ʼn mark waar Afrikaanse nog steeds goeie keuses het wat betref waar om te swot, het die UJ tot laaste op die lys geskuif. Die redes hiervoor strek egter veel wyer as taal terwyl rassisme kennelik ook ʼn rol speel. Eerstens wil studente wat goed op skool gevaar het, nie in oorvol klasse sit en net nog ʼn nommer wees nie. Hulle het uiteraard by goeie skole gematrikuleer, hard gewerk, persoonlike aandag gekry en wil in hul eie taal vrae vra en interaktief in ʼn klasverband wees – iets wat in oorvol Engelse klasse met geraas nie altyd moontlik is nie. Tweedens is hul kultuur grootliks nie meer daar teenwoordig nie.

Dit is juis hierdie feite wat Afrikaans in ʼn moeilike posisie plaas. ʼn Prominente dosent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus wat in ʼn bestuursposisie is, het my ʼn ruk gelede meegedeel hulle ervaar ontsaglike druk om Engelse studente daar toe te laat (saam met die universiteit se twee ander kampusse) en daarmee saam noodwendig hul taalbeleid ook aan te pas. In ʼn arm, oorwegend swart provinsie is dit nie moeilik nie om te sien dat die Potch-kampus gou dieselfde pad as die UJ kan loop as dit gebeur. Die Engelse bruin en wit studente het eweneens geweldig aan die Universiteit van Stellenbosch (US) toegeneem sonder ʼn gelykmatige toename in bruin Afrikaanse studente wat saam met wit Afrikaanse studente die poel kan vergroot. ʼn Bruin Afrikaanse taalaktivis, Jason Lloyd, het selfs onlangs in ʼn uiters eensydige en partydige artikel in Beeld vir die verengelsing van die US bepleit terwyl prof. Pierre de Vos, self ʼn produk van ʼn Afrikaanse US, ook sy alma mater oor sy “obstruktiewe” taalbeleid gekap het. Nzimande het self kort ná sy ampsaanvaarding sy stuiwer in die US-taalarmbeurs gegooi en gesê die universiteit moet dit aanpas om groter toegang toe te laat. Hulle almal vra dus vir groter toegang vir nie-Afrikaanssprekendes – en dus minder Afrikaanse klasse.

Dan is die druk nie net ekstern nie, maar word willens en wetens deur rektore en ander akademiese hoëlui gedryf. Sommige rektore voel klaarblyklik net nie so sterk oor Afrikaans nie terwyl ander dit weens politieke druk gaandeweg afskaal. Onder prof. Russel Botman van die US en prof. Cheryl de la Rey van die Universiteit van Pretoria (UP) het Afrikaans merkbaar agteruit gegaan. Dieselfde het onder prof. Ihron Rensburg by die UJ gebeur. En dan wonder hulle hoekom Afrikaanse eerder universiteite soos Kovsies en die Puk kies om by te gaan studeer. Selfs prof. Jonathan Jansen, huidige rektor van die Universiteit van die Vrystaat en ʼn billike stem in universiteitsake, het in 2010 in ʼn gedenklesing by Kovsies gesê hy het aan die taaldebatte op universiteit onttrek, want hulle is volgens hom kinderagtig, eng, oneerlik en onproduktief en boonop eksklusiewe Afrikaans universiteite as “gevaarlik” bestempel. Volgens hom bou die universiteit nou sy kapasiteit vir navorsing en leer in Sotho. Laasgenoemde verwelkom ek volkome want moedertaalonderrig kom almal toe, nie net Afrikaanssprekendes nie, maar om die debat oor Afrikaans, wat ʼn erkende wetenskapstaal en bewese akademiese rekord het, summier te vermy is myns insiens problematies. Afrikaans se toekoms by ʼn universiteit soos Kovsies behoort oorwoë en juis met debat uitgeklaar te word, nie deur eensydige besluite deur die universiteit self nie. Min mense, indien eniges, kan realisties vir ʼn suiwer Afrikaanse Kovsies voorbrand maak en doen dit ook, so hoekom is Jansen dan so bekommerd oor “eksklusief Afrikaanse universiteite” as dit nie is waarvoor Afrikaanse kampvegters vra nie? En hoekom beywer ander groepe hulle nie ook vir hul tale as akademiese tale nie en hoekom skryf hulle nie hul verhandelinge en tesisse in hul moedertale om dit sodoende as universiteitstale te vestig nie? Die antwoorde is kompleks dog voor die hand liggend.

Die situasie in skole is ewe erg. Die staat het laat laas jaar ʼn hofgeding teen ʼn private skool in Sandton gewen om alle skole te dwing om alle leerlinge toe te laat al is die skool vol. Dit het uiteraard implikasies vir Afrikaanse skole begin inhou. Hierdie naweek is berig hoe drie skole in Fochville op die verre Wes-Rand gedwing is om Engelse leerlinge toe te laat al was die skole reeds vol. Die leerlinge is boonop nie eers woonagtig in die areas waar die skole geleë is nie. Dieselfde druk kom al ʼn geruime tyd op Afrikaanse skole in die Vaaldriehoek. Ek was in twee hoërskole op die Witwatersrand en die eerste een het feitlik oornag verengels toe dit parallelmedium geword het, toegang uitgebrei is na Engelse studente en die demografie in Engels se guns was. Dit was nadat daar belowe is dit sal nie gebeur nie. Na raming het die aantal Afrikaanse skole juis oor hierdie rede tussen 1993 van ongeveer 1300 na rondom 600 in 2008 gehalveer. Hierdie tendens kan ʼn gladde afdraande begin raak vir Afrikaans as onderrigtaal op skool.

Groter toegang en laer standaarde veroorsaak derhalwe ʼn instroming van studente wat wil studeer, maar daar is klaarblyklik net nie plek vir almal nie. Afrikaans staan as ʼn struikelblok in die pad van die regering om die swart publiek te paai met groter universiteitstoegang. Verwag dus dat die taaldebat op universiteite en politieke druk op Afrikaanse skole in 2012 in alle felheid gaan toeneem.

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

WAARHEEN?

1 Die vloedgolf van die getalle van diegene in Suider-Afrika wat nie ons taal praat nie, spoel lank reeds onafwendbaar oor Afrikaanstalige laerskole, hoërskole en universiteite, brander vir brander.

2 ‘n Kernbevinding in hierdie helder beredeneerde artikel, lê in die frase wat die historiese waarheid onthul – dat “die demografie in Engels se guns was”.

3 Gaan Afrikaanssprekendes na nog ‘n eeu almal noodwendig verdrink? Of sal ons êrens ‘n berg vind wat bo die golwe uitstyg? En wat ons taalgenote die moed het om te klim?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.