Een van die sterkste aardbewings vanjaar en die sterkste die afgelope week het Maandagoggend net noord van Puerto Rico in die Karibiese See voorgekom.
Die aardbewing het 6,4 op die momentmagnitudeskaal gemeet en geboue op die eiland laat wieg. Geen berigte van ongevalle of skade is nog aangemeld nie.
Dit volg net drie dae na ‘n aardbewing van M5,1 die naasliggende Kuba getref het. Die skudding se episentrum was ook in die see noord van die eiland, en is tot by Keys in Florida gevoel waar geboue ook liggies gewieg het.
Dié aardbewings volg kort nadat die Amerikaanse US Geological Survey (USGS) op 20 Desember verlede jaar die uitslag van ‘n studie bekend gemaak het waarin bevind is dat die potensiaal vir ‘n groot aardbewing met gevolglike tsunami in die Karibiese See, in die omgewing van die eiland Guadeloupe, groter is as wat voorheen gemeen is. Volgens die studie is daar reeds genoeg energie in die plaatrand opgebou om ‘n magnitude 8-aardbewing op te wek. In 1843 het ‘n aardbewing wat na raming tussen M 7,5 en 8,5 by Guadeloupe voorgekom en duisende mense op die eiland het gesterf. Die USGS meen dat ‘n soortgelyke aardbewing nou tienduisende lewens kan eis.
Volgens die USGS is die kanse goed dat so ‘n aardbewing ‘n tsunami tot gevolg sal hê wat ‘n groot impak aan
die kuste van die Karibiese See sal hê, maar na verwagting betreklik min skade aan die ooskus van die VSA sal aanrig.
Dié verslag het moontlik daartoe bygedra dat daar onmiddellik na die jongste skudding, in die media berig is dat groot kommer bestaan dat die skudding ‘n tsunami tot gevolg kon gehad het. Die owerhede het egter gemeen dat sou ‘n tsunami ontstaan het, sou dit ‘n baie ligte een wees.