Steve benoem sý Grootste Afrikaner

Foto: Phillip Bruwer

Die land het gestem en Steve Hofmeyr is Donderdagaand by ‘n spoggeleentheid in Centurion in die Eietydse-kategorie as die Grootste Afrikaner aangewys. Die Grootste Afrikaner-veldtog is ʼn inisiatief van Maroela Media. Lees meer hier.

Steve het Maandag op sy Facebook-blad geskryf: “Dankie Maroela Media en Suid-Afrika. Ek is beslis nie hier om myself te verdedig as die Grootste Afrikaner ooit nie. Ek is gewillig om myself as mens, gewone sterfling, te verduidelik. Nie as God se regterhand of Christus se linkerhand nie, nie as engel of demigod nie. Net as gewone ou met boaardse trots en liefde vir sy mense en hul yswekkende verhaal.”

Hy skryf verder hy weet hoe lyk die grootste Afrikaner. “Dis nie ek nie. Nie Riaan, Laurika of Die Antwoord nie. Nie oom Paul, Neelsie, Naas Botha, Max du Preez of De La Rey nie. Ek het hom, my Grootste Afrikaner, reeds ontmoet. Hy’s daar buite. Hy’s nie ryk nie. Hy vind nie sy toevlug na weelde en luukse wegkomplekke nie. Sy heil is in dit wat deur sy voorouers beproef is en hom vandag geestelike balans en maatskaplike ewewig bring. Hy lees ‘n stukkie uit Korintiërs vir sy kinders voor hulle gaan slaap.”

“Sy speel, met twee vingers soms meer, uit enkele bladsye van die FAK terwyl haar familie met trots om die ou oorgeërfde regopklavier vergader. Sy onthou nog poësie uit haar hoërskooldae en kan van die Eybers en AG Visserversies vir haar kinders voordra. Sy word nie gerelegeer kombuis toe nie, sy stap ken-op na die resepteboek van haar ouma. Die ou meel val uit tussen die bladsye. Sy bied spyse met trots, amper as roeping, hoe geslaagd of nie.”

“Hy stap uit en sien die heelal in die klonte wat hy in sy vuiste fyndruk. Hy bid vir reën en ruik die blydskap daarvan in die afgerolde mielieblaar. Hy is besig, maar staan graag in diens van sy buurman en gemeenskap. Daar gekom, lag hulle saam. Humor is alles. Dit maak lig van swaar. Sy geldeenheid is nie munte soseer as werketiek nie. Hy roem hom op die voorreg as enigste volk te wêreld wat marsjeer vir hul taal, as enigste taalgroep wat nie een nie, maar twee monumente opgerig het vir hul minderheidstaal teen magiese oormagte. Oormagte vir wie taalgetrouheid oorbodig is as Engels byderhand is. Jy is daar buite. Ek salueer jou, my Grootste Afrikaner.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Betsie Moolman ·

Dis presies hoekom hy die grootste Afrikaner van ons tyd is – sy nederigheid . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.