Steve Biko-hospitaal ontken nalatigheid

Phillip Pretorius

Die Steve Biko-hospitaal het ontken dat nalatigheid bygedra het tot die dood van Phillip Pretorius, ʼn Pretoria-inwoner wat onlangs daar dood is.

Maroela Media het Donderdag berig ʼn prokureur van Pretoria gaan die departement van gesondheid dagvaar nadat Pretorius glo weens nalatigheid by die hospitaal dood is. Lees meer hier.

Dr. Mathabo Mathebula, die hospitaal se adjunk-uitvoerende hoof, het op die aantygings reageer en aan Maroela Media gesê Pretorius is op 14 November in die hospitaal opgeneem nadat hy in ʼn winkel ineengestort het.

“Hy het vetsug en erge hipertensie gehad en het daarvolgens nie op behandeling en spesiale medikasie reageer nie. Hy het by die hospitaal opgedaag met lugwegontsteking. Hy het ook in 2010 lewer- en niersere gehad en absesse moes dreineer word. Hy het ook swak bloedtoever na sy hartspier en niere gehad as gevolg van verstopte are weens die vetsug. Dit het tot ʼn verswakte hart en nierversaking gelei,” het Mathebula gesê. Mathebula sê Pretorius het ook onder andere epilepsie en spierdistrofie gehad.

“Sy algemene welstand, tesame met sy gewig en die swak bloedtoevoer het daartoe gelei dat hy op 30 November begin bedsere ontwikkel het. Al dié faktore het tot sy verswakte toestand bygedra en hy het die beste moontlike sorg vir sy swak toestand ontvang. Die beweringe dat hy dus dood is weens nalatigheid en swak verpleging is ongegrond,” het Mathebula bygevoeg.

Mathebula het haar meegevoel aan Pretorius se familie betuig en gesê dit is jammer dat Pretorius gesterf het ten spyte van die spesialis, verpleegsters en ander gesondheidswerkers se pogings om sy lewe te probeer red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Deon Huysamen ·

Nog liegpraatjies van swart mense. Wat kan jy meer verwag ?

Stefanie Schwartz (Pretorius) ·

Mathebula is besig om growwe leuns te versin. Daar was met Phillip geen gesondheidsprobleem behalwe jarelange hipertensie wat wel van tyd tot tyd sy gesondheid ondermyn het. Dit is nie die punt nie, Hy het al talle van hierdie ligte beroertes oorleef en na n paar dae in die hospitaal opgestaan en self weer uitgestap. Hy was n groot man, korrek, maar nie vetsugtig nie. Daar was geen teken van verswakte hart, nierversaking of spierdistrofie nie. Hy het geen seerplek op sy liggaam gehad met opname nie, en was by sy volle verstand en in staat om van sy bed af op te staan met opname. Die dr van Steve Biko het aangedring dat hy aanbly vir verdere toetse wat hy wou doen, toetse wat ons, sy familie nooit enige besprekings of uitslae van ontvang het nie – inteendeel twyfel ons of daar ooit enige toetse op hom uitgevoer is. Alles in die geval van Phillip dui op die grofste nalatigheid deur mediese personeel wat moontlik is. Hou op lieg Mathebula!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.