Steve se Facebook help hond huis toe

Ice die poolhond

‘n Paartjie van Centurion se liefling-poolhond (husky) is Vrydagmiddag, nadat hy vyf dae lank weg was, deur middel van die sanger Steve Hofmeyr se Facebook-blad gevind.

Die drie jaar oue reun, Ice, het Maandagoggend oor die muur van sy jonggetroude eienaars se huis in Rooihuiskraal, Centurion gespring. Nico Strydom, Ice se eienaar, sê hulle het onmiddellik na hom begin soek, maar sonder sukses. “Ons het dadelik begin om die omgewing te fynkam, maar kon hom nie kry nie. Ek het op verskeie Facebook-blaaie, waaronder Steve Hofmeyr en talle dierewelsynsorganisasies se blaaie, ʼn foto en beskrywing van Ice geplaas.”

Strydom sê hulle het die res van die week sonder sukses na Ice gesoek. Hulle het daagliks by die DBV in Lyttelton en by verskeie veeartse ʼn draai gaan maak om te kyk of iemand hom dalk daar afgelaai het. Die paartjie het ook oral in die omgewing plakkate opgesit en die buurt platgeloop en -gery. Hulle het selfs by ‘n plaaslike koerant en Husky Rescue SA om hulp aangeklop. Teen Vrydag het hulle begin aanvaar dat Ice waarskynlik gesteel is.

“Ons harte was baie seer,” sê Strydom. “Ice is vir ons soos ‘n kind en is deel van elke stukkie van ons dagroetine.”

Strydom het Vrydagmiddag ʼn oproep ontvang van ʼn vrou wat die inskrywing op Hofmeyr se Facebook-blad gesien het. “Die vrou het vir my gesê dat sy vir Ice in ʼn straat in The Reeds, net langs Rooihuiskraal, gesien het. Ek het onmiddellik in my motor gespring en na die straat toe gejaag. Daar sit Ice toe sowaar in iemand se erf. Hy het dadelik na my toe aangehardloop gekom. Ek het hom in die motor gelaai en huis toe gery. Ek kyk nou nog elke nou en dan na hom om seker te maak hy is regtig terug by ons.
“Ek is so dankbaar dat die vrou die inskrywing gesien het en daarop reageer het. Dit wys weereens net die mag van sosiale media,” het Strydom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amanda/Sindy ·

Bly julle Ice is terug!! My hart bokspring sommer met die goeie nuus!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.