Steyn het glo nie getuies om te roep nie

Johannes Jacobus Steyn, die "Sondagverkragter"

Die beweerde “Sondagverkragter” het Woensdag geweier om enige getuies tot sy verdediging te ontbied.

Johannes Steyn het die derde dag in die getuiebank by die Palm Ridge-landdroshof deurgebring. Hy het onskuldig gepleit op 37 aanklagte, insluitend 2 van moord en 11 van verkragting. Steyn het gesê hy kan nie iemand ontbied wat sy bewerings kan staaf nie, berig EWN. Hy het aan die hof verduidelik hy kon nie in verbinding tree met getuies nie, hy kan nie hulle name onthou nie, en ander het glo geweier om te getuig weens die mediablootstelling aan die saak.

Regter Sita Kolbe het gesê dat die hof namens hom ‘n getuie kan dagvaard. Steyn het geantwoord dat hy nie enigiemand wil forseer om te getuig nie.

Staatsaanklaer Carina Coetzee het hom die afgelope twee dae met haar ondervraging onder druk geplaas. Sy het hom onder andere gevra waarom hy sekere misdade bely het as hy dit nie gepleeg het nie. Sy het bygevoeg dat dit ander meisie se lewens in gevaar stel. Steyn het gesê hy het nie in daardie stadium só daaraan gedink nie, en dat hy forseer was om te bely.

Coetzee het hom toe gevra waarom hy gewoonlik prostitute in sy sitkamer onthaal het, maar op daardie dag in sy slaapkamer. “My huweliksbed was, tot ‘n punt toe, spesiaal vir my. Daarna nie meer nie,” het Steyn geantwoord. Steyn het begin huil toe hy verduidelik het dat sy huwelik sedert 2011 agteruit begin gaan het. Hy het hul troufoto en Bybels langs hul bed verwyder. Hy het glo te skuldig gevoel om seks op hul bed te hê, en toe het hy en die prostituut glo die huis verlaat. Hierna het hulle na ‘n verlate vakansieoord in Maropeng gegaan. Louise de Waal se verkoolde liggaam is in dié gebied opgespoor. Forensiese bewyse dui daarop dat sy lewendig verbrand is.

Steyn het homself in Oktober 2011, ‘n dag nadat De Waal se liggaam op ‘n plaas in Magaliesburg, Noordwes, opgespoor is, aan die polisie in Margate oorhandig.

Steyn het Dinsdag erken dat hy kinderpornografie gekyk het, maar ontken dat hy sy drange met tienermeisies bevredig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.