Steyn se “slagoffers” getuig

Steyn tydens sy verskyning op 13 Desember in die Krugersdorp streekshof. Foto: Werner Beukes/SAPA

Johannes Jacobus Steyn, of die sogenaamde “Sondagverkragter”, het Maandag vir die eerste keer tydens sy verhoor in trane uitgebars toe sy eksvrou teen hom getuig het.

Steyn het begin huil nadat sy eksvrou, wat gister in ʼn geslote hof getuig het, ʼn telefoonoproep beskryf het wat hy aan haar gemaak het op 12 Oktober 2010, die dag van Louise de Waal (17) se moord. Steyn se eksvrou mag ingevolge ’n hofbevel nie geïdentifiseer word nie. “Hy het my gebel en gesê hy het nog ʼn meisie ontvoer. Hy het gesê hy is jammer en dat hy ʼn monster is.” Hy het glo aan haar gesê dat hy deurmekaar is en dat hy gaan vlug. Op ʼn vraag aan haar oor wat Steyn op Sondae gedoen het, het sy geantwoord gemeenskapsdiens weens ʼn opgeskorte vonnis wat hy vroeër ontvang het.

Twee van Steyn se beweerde slagoffers het Maandag in kamera getuig. ʼn 18-jarige meisie het getuig dat haar vriendin van ʼn bewegende bakkie gespring het in ʼn poging om van haar ontvoerder te ontsnap. Die meisie (toe 16) en Lazanne Farmer (14) is Sondag 5 September 2010 in Elandspoort in die weste van Pretoria ontvoer. Farmer het uit die ontvoerder se bakkie na haar dood gespring. “Sy het my hand gelos en uit die bakkie gespring.” Haar vriendin is glo hierna in ’n beboste gebied verkrag. “Ek wou saam met haar uitspring maar toe gryp hy my en maak die deur toe. Ek het gedink sy sal hulp kry. Ek het gedink sy het dalk net seergekry.” Die meisie het getuig dat haar ontvoerder haar na ʼn beboste gebied geneem en verkrag het. Hy het glo haar skoene en bra gevat. ʼn 16-jarige meisie het getuig dat sy ontvoer, geblinddoek en seksueel aangerand is. Sy het getuig dat haar ontvoerder haar klere uitgetrek het en gesien het sy menstrueer. “Hy het aan my gesê dis my gelukkige dag.” Hy het toe glo ʼn “masjien” uitgehaal en dit oor haar borste beweeg. Sy het aan die hof verduidelik hoe hy dit gebruik het om haar seksueel aan te rand. Haar ontvoerder het glo haar haarband, t-hemp, onderklere en skoene gevat. Die verhoor duur Dinsdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.