Stiefpa wat glo moor deur polisie doodgeskiet

geweer4-320x1791ʼn Man wat glo sy twee stiefdogters vermoor het, is Vrydagaand deur die polisie doodgeskiet in ʼn kroeg in Ga-Chuene, sowat 40km buite Polokwane in Limpopo.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê dat hulle Vrydagmiddag ʼn wenk ontvang het dat die verdagte by ʼn kroeg sit en drink. Sy sê die polisie se taktiese- en opsporingseenheid is na die kroeg ontbied. Otto sê die verdagte het op polisielede losgebrand met hul aankoms op die toneel. “Die polisie het teruggevuur en die verdagte is doodgeskiet.” Otto sê die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sal die saak ondersoek.

Die 39-jarige verdagte het glo Woensdag sy twee stiefdogters, onderskeidelik agt en 10 jaar oud, doodgeskiet. Die man het glo sy drie stiefkinders by hul ouma gaan haal en na hulle ma se werksplek geneem. “Hy kon glo nie met sy vrou praat nie, aangesien sy besig was en hy het weer na buite gegaan. Sonder om enigiets te sê het hy twee skote afgevuur en een van die dogtertjies doodgeskiet. Die tweede dogtertjie het gevlug,” het Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, vroeër gesê. Hy is toe saam met sy jongste kind, ‘n tweejarige seuntjie, terug na die ouma se huis. Hy het op pad soontoe die seuntjie by ‘n vriend se huis afgelaai. “Hy het die tweede dogtertjie by haar ouma se huis gekry en haar glo twee keer van naby geskiet en weggehardloop.”

Die seuntjie is vroeër met sy ma herenig. Altwee is onder polisie-bewaking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.