“Stop onbillike regstellendeaksiebeleid”

Verskeie kerk-, vakbond- en gemeenskapsleiers het hulle Donderdagmiddag ten sterkste uitgespreek teen ʼn regstellendeaksiebenadering wat ten doel het om die nasionale rassedemografie oral in Suid-Afrika te laat weerspieël, ongeag die demografie van ʼn provinsie of streek.

Meer as 15 kerk-, vakbond- en gemeenskapsorganisasies het tydens ʼn mediakonferensie by die arbeidshof in Kaapstad hul steun aan Solidariteit se regstellendeaksiesaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) uitgespreek.

Johnny Jansen, stigterslid en voormalige president van Popcru en adjunkdirekteur in die DKD, het namens die organisasies hul griewe duidelik gemaak. Jansen sê die staat se benadering tot regstellende aksie respekteer nie Suid-Afrika se ryk kulturele verskeidenheid nie, maar wil hê dat Suid-Afrika oral dieselfde lyk. “Hierdie beleid het tot gevolg dat absolute plafonne vir minderhede geld as hulle volgens die nasionale rassedemografie op enige plek oorverteenwoordig is. Die Wes-Kaap is ʼn goeie voorbeeld van die gevolge van hierdie irrasionele benadering tot regstellende aksie. Nasionaal gesproke vorm bruin Suid-Afrikaners ongeveer 10% van die rassedemografie, maar in die Wes-Kaap verteenwoordig hulle sowat 53% van die demografiese samestelling. Indien die nasionale rassedemografie op die Wes-Kaap toegepas word, sal dit beteken dat daar sowat een miljoen bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap is. Volgens hierdie benadering sal hulle nie regte hê waar hulle bly nie, maar sal hulle agter hul regte moet aan trek. Dit sal beteken dat ʼn reuse-sosialemanipulasieprogram en gedwonge verskuiwings nodig is om die staat se regstellendeaksiedoelwitte te bereik.”

Jansen sê regstellende aksie ontaard in ʼn suiwer wiskundige benadering en het alles met ras, maar min met regstelling te doen. “Die mens word uit regstellende aksie gehaal en met statistiese berekenings vervang. ʼn Benadering waarvolgens mense suiwer op grond van hul ras weerhou word van bevordering, tas die persone se reg op waardigheid en gelykheid aan. Minderhede word só van die politieke stelsel vervreem. Ons spreek ons ook uit teen die departement van korrektiewe dienste se benadering tot regstellende aksie wat hierdie beleid van rasseverteenwoordiging in praktyk laat neerslag vind. Ons spreek ons solidariteit uit met die werknemers van die departement van korrektiewe dienste wat dapper genoeg was om die saak op te neem. Hulle doen dit nie vir hulself nie, maar vir die beginsels van billikheid, regverdigheid en gelykheid wat onderliggende waardes van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is. Hulle verdien die steun van alle Suid-Afrikaners, ongeag kleur.”

Jansen het die DKD-werknemers sterkte toegewens met hul onbaatsugtige opoffering om die beginsels van die Grondwet in die hof te verdedig. “Hul sukses in die hof sal die gesig van regstellende aksie in die staatsdiens vir altyd verander en keer dat hierdie rassepraktyke nie ook na die privaat sektor oorspoel nie. Ons wil ons teleurstelling uitspreek dat dit nodig is om die regering na die hof te neem om hierdie regstellendeaksiepraktyke te stop. Dit is ons eis dat die regering en die departement van korrektiewe dienste hierdie onbillike praktyke staak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.