Storm oor Mandela-handelsmerk

Voormalige president Nelson Mandela

Familielede van voormalige president Nelson Mandela het oor die afgelope jaar maatskappye opgerig wat direk onder sy naam, een van die waardevolste handelsmerke wêreldwyd, handel dryf.

Die Nelson Mandela-stigting bewaak die gebruik van dié handelsmerk al die afgelope tien jaar baie streng. ‘n Bron wat glo anoniem wil bly, het aan Beeld gesê Mandela se kinders en kleinkinders is besorg dat hulle hul reg tot Mandela se naam ná sy afsterwe gaan verloor, aangesien Mandela en Graça Machel binne gemeenskap van goedere getroud is.

Teen die einde van 2010 het Madiba se oudste dogter, Makaziwe Mandela, en haar dogter, Tukwini Mandela, die House of Mandela gestig, ‘n reeks wyne wat in Amerika bekendgestel is. Madiba se kleinkinders, Zamaswazi Dlamini en Zaziwe Dlamini, het in 2012 die Long Walk to Freedom-handelsmerk gestig. Zondwa Mandela, ‘n voormalige mededirekteur saam met pres. Jacob Zuma se broerskind, Khulubuse Zuma van die rampspoedige Aurora-myn, het in 2012 ‘n maatskappy, Mandela 95th Birthday, opgerig.

Makaziwe Mandela en Zenani Dlamini, tesame met die ondersteuning van ‘n derde kind en meeste van sy kleinkinders, het met ‘n hofgeding oor die Nelson Mandela-handelsmerk begin. Ismail Ayob, wat Mandela se kinders en kleinkinders verteenwoordig, het gesê dit is ‘n poging deur die Mandela-familie om “terug te eis wat regmatig aan hulle behoort”.

Ayob sê hy het in 2012 ontdek dat advokaat George Bizos, prokureur Bally Chuene, minister van behuising Tokyo Sexwale, en Oos-Kaapse regter Temba Sangoni, in 2006 as direkteure van twee Mandela-maatskappye aangestel is. Madiba se kinders en kleinkinders voer egter aan dat hierdie aanstellings onwettig is en hulle het ‘n aansoek ingedien om die mans uit dié poste te verwyder.

Indien die aansoek goedgekeur word, sal Makaziwe Mandela en Zenani Dlamini die enigste twee direkteure wees.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dis darem so vreemd. Wanneer begin mense eers oor die boedel baklei? Na die afsterwe van ‘n familielid…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.