Stormers kan weer asemhaal ná wen

Joe Pietersen van die Stormers

Daar is geen motivering so doeltreffend soos om te weet jy móét wen nie.

Die vrees in die Stormers se agterkoppe dat ‘n nederlaag vandag op Nuweland teen die Sharks hul Super15-veldtog sou omverwerp, het gemaak dat hulle die Durbaniete met 21-15 geklop het in ‘n saai affêre. Die halftydtelling was 16-6.

By die Sharks het hierdie dringendheid ontbreek en hul sublieme maar uitputtende oorwinning oor die gedugte Crusaders laas week was straks te veel vir hulle om die Stormers boonop vanaand te troef. ‘n Nederlaag vir die Stormers op ‘n dag wat feitlik elke Kapenaar by Nuweland was en soveel op die spel is, was boonop ondenkbaar.

Die Stormers het van meet af gewys hulle is lus vir aanval en Joe Pietersen het hul rekening met ‘n strafskop geopen toe Paul Jordaan nie vir Andries Bekker ná ‘n duikslag wou los nie. Hy het kort daarna dié ritueel twee maal herhaal en die telling 9-0 vir die tuisspan gemaak.

Die betroubare Pat Lambie het die Sharks eers ná bykans ‘n halfuur op die telbord geplaas met ‘n strafskop.

Die Stormers was duidelik lus om kop omhoog in die ruskamers in te draf. Nadat die bal in die Kapenaars se agterlyn af laat loop is, het hul kaptein, Jean de Villiers, sy sentermaat, Juan de Jongh, met ‘n perfekte aangee weggestuur doellyn toe. Joe Pietersen het dit verdoel.

Lambie het die punteverskil verklein deur kort voor die halftydfluitjie nog drie punte by te voeg.

John Plumtree het klaarblyklik hard met sy manne tydens rustyd gepraat en die Sharks het met nuwe vuur begin speel in die tweede helfte. Lambie het dit 16-9 gemaak nadat die Sharks aanval op aanval op die Stormers se doellyn geloods het en laasgenoemde in die proses gedwing het om foute te maak.

Pietersen het dit kort daarna 19-9 met ‘n strafskop van sy eie gemaak.

Nadat Lambie sy span weer binne wenafstand gebring het met ‘n strafdoel, het Pietersen vir alle praktiese doeleindes die wen verseël met ‘n paar minute van spel oor.

Die Piesangboere het egter darem ‘n bonuspunt verdien toe Lambie in die doodsnikke geslaag het met ‘n strafdoel.

Die Stormers het volgende week ‘n loslootjie voordat hulle na Australasië toer. Die Sharks kan egter nie selfvoldaan raak nie, want hulle pak die bedrewe Cheetahs in Durban volgende week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.