Stormers klop Kings

Joe Pietersen van die Stormers Foto: skysports.com

Met reën wat neerstuif kan ‘n oorvloed punte en drieë in ‘n rugbywedstryd nie maklik te wagte wees nie en so ook was dit vanaand in Kaapstad tussen die Stormers en die Kings.

Daar was slegs twee drieë danksy rolmaalbewegings in die tweede helfte deur elke span gedruk. Die Stormers was uiteindelik 19-11 baas met die halftydtelling wat 9-6 was.

Die Stormers is steeds tweede laaste in die Suid-Afrikaanse konferensie en die Kings in die laaste plek. Beide spanne kon eintlik net vir trots speel in ‘n saai wedstryd vol foute en verspeelde kanse.

Nadat daar berig is dat 28 000 kaartjies vir hierdie wedstryd verkoop is, het die toeskouers bepaald besluit dis nie die moeite werd om die koue en reën aan te durf om ‘n onbelangrike (en vervelige) wedstryd by te woon nie. Die stadion was bra leeg.

Die Stormers se Joe Pietersen het 14 van sy span se 19 punte met sy skopstewel aangeteken en die flank, Deon Fourie, het die ander vyf punte met ‘n drie ná ‘n rolmaalbeweging aangeteken.

Die Kings se George Whitehead het vanaand op losskakel diens gedoen en ses van sy span se 11 punte aangeteken met die flank Wimpie van der Walt wat die ander vyf met ‘n soortgelyke drie aan Fourie s’n bygevoeg het.

Dit is stellig met hierdie uitslag beslis dat die Stormers ten minste nie die houtlepel gaan ontvang om later vanjaar teen die Leeus te speel vir ‘n plek in volgende jaar se Super15 nie.

Beide hierdie spanne sal egter lank en harde ontledings moet doen om hul spelpeil en spelpatroon te verbeter as hulle hoop om enigsins ooit ‘n faktor in hierdie strawwe kompetisie te wees. Kampioenspanne se sukses hang nie slegs van goeie verdediging en toevallige drieë af nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.