Stormers se doppie in Melbourne geklink

Andries Bekker

Die Stormers se hoop om enigsins nog ‘n faktor in hierdie jaar se Super15 te wees is vandag verydel toe hulle teen die sukkelende Rebels in Melbourne met 29-21 verloor het. Die halftydtelling was 14-13 in die Stormers se guns.

Nes laas week het die Kapenaars weer skouspelagtig in die tweede helfte uitmekaar geval. Swak dissipline het hulle gekos met drie strafskoppe deur die Rebels-heelagter, Jason Woodward, wat die deurslaggewende faktor in sy span se sege was.

Die Stormers het geen punte uit hierdie wedstryd verdien nie en het teruggesak na elfde op die gekombineerde punteleer terwyl die Rebels hulle nou verbygesteek het en tiende lê.

Albei spanne het drie drieë gedruk. Die Rebels se kaptein, Scott Hogginbotham, en die slot, Hugh Pyle, het albei agter die witlyn gaan kuier terwyl ‘n strafdrie ook aan die tuisspan toegeken is.

Vir die Stormers het die hemelbesem Andries Bekker, die skrumskakel Louis Schreuder en Bryan Habana gaan druk.

Woodward en Joe Pietersen het beide hul spanne se drie drieë verdoel, maar Woodward se drie strafskop-suksesse het sy span laat seëvier.

Die Kaapse span het nou slegs trots om voor te speel en hulle sal wil vergoed vir hul mistroostige toer-resultate deur die Reds volgende week in die Kaap te klop. Maar dit is allermins ‘n gegewe aangesien die Reds een van die gunstelinge is om die reeks te wen en hul posisie vir ‘n tuishalfeindstryd ten alle koste sal wil beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Uit al die kommentare wat te lese is in die media, blyk dit duidelik dat die Stormers se afrigtingspan duidelik in die spervuur is en dat hulle ernstige nabetragting moet hou oor hul standaard en pyl van afrigting – hou die afrigting rekening met al die jongste aspekte van aanval en verdediging want rugby is alles behalwe staties en verander van oomblik na oomblik.

Soos sake tans staan, word daar gemors met die potensiaal van goeie en belowende spelers wat net eenvoudig nie tot hul reg kom nie. En dit is nie ‘n kwessie dat die WP nie geld en middele het nie – nee daar is genoeg geld asook ‘n groot bron waaruit keuses vir spelers gemaak kan word.

Is die fout slegs by die afrigters of word daar van die bestuur se kant dalk ook ingemeng in die afrigting, keuses van speler in posisies asook spelers wat gelok moet word – dit is nou tot so ‘n mate dat die opinie van die afrigters nooit in aggeneem word nie.

‘n Baie deeglike ondersoek sal na alle sake in WP-rugby gedoen moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.