Stormers trap Cheetahs in die Kaap

Die Cheetahs het vanaand op ’n piesangskil gegly toe hulle ’n loesing teen die Stormers op Nuweland in Kaapstad gekry het.

Die eindtelling was 28-3 en halftyd het die telbord 10-3 gelui. Die Stormers het die Vrystaters in alle fasette getroef en totale rugby gespeel om die Blikore van driegeleenthede te ontneem sowel as die aanvalsmomentum te behou. Die Kapenaars het drie drieë gedruk en daarmee hul kritici wat sê hulle speel vervelige stampkar-rugby en fokus slegs op verdediging, se monde vanaand gesnoer. Dit laat instinktief die vraag ontstaan: ‘Hoekom speel die Stormers nie altyd op hierdie manier nie?’ en ‘Is dit van nou af die Stormers se permanente spelwyse?’

Die Stormers se skrumwerk was ook uit die boonste rakke en die jong Bok-slot Eben Etzebeth het metafories sowel as fisies uitgetroon in die lynstane terwyl die Cheetah-slotte erg gesukkel het om hul balle doeltreffend te wen. Dit help ook as jy al jou geloof in ’n skopper soos Joe Pietersen kan plaas om nie foute pale toe te maak nie. Pietersen het egter eers sy span se eerste punte ná ’n halfuur by wyse van ‘n strafskop aangeten nadat die Cheetahs se Riaan Smit reeds met een geslaag het. Die Cheetahs het soos titane verdedig om die Stormers van hul doellyn af weg te hou, maar die Stormers-kaptein Deon Fourie het kort voor rustyd oorgeduik danksy sy pak voorspelers se rolmaalbeweging. Pietersen het die drie verdoel.

Pietersen het nog twee strafskoppe suiwer deur die pale gejaag voordat die nuweling-Bok Siya Kolisi op volle vaart ’n aangee van Louis Shreuder gevang en soos ’n stoomtrein oor die doellyn is. Bryana Habana het die skroewe verder aangedraai toe hy in die hoekie afgerond het ná ’n aangee van Damien de Allende en swak verdediging deur Coenie Oosthuizen.

Hierdie uitslag beteken egter nie veel vir hierdie spanne se rangleer-posisie nie. Die Stormers is nou slegs tiende op die algehele punteleer en die Cheetahs behou hul sesde plek, wat steeds in die kwarteindronde-sone is. Die Stormers is steeds vierde in die SA konferensie en die Cheetahs in die tweede posisie. Die Cheetahs moet egter volgende naweek teen die gekweste Blues op Vodacompark in Bloemfontein wen om steeds ’n kans te staan om onder die eerste ses te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Stormers, as julle rugby op hierdie vlak speel, is die Bulls oor twee weke nie ‘n onoorkomelike hekkie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.