Stormers wen net-net in NZ

Michael Rhodes

Die Kaapse storm was te sterk vir die Wellingtonse winde met die Stormers wat vanoggend ‘n naelskraapse oorwinning oor die Nieu-Seelandse Hurricanes in Palmerston North behaal het.

Die eindtelling was 18-16 en die rustydtelling 11-7.

Hierdie oorwinning sal die Kaapse span moed gee vir hul Australasiese toer nadat hulle wisselvallig vertoon het in hul tuiswedstryde. Ondanks die Nieu-Seelanders se eie wisselvalligheid, kan hierdie sege egter as ‘n grootse prestasie beskou word as in ag geneem word dat die Canes een van die mees sterbelaaide en kreatiefste spanne in die Super15 is.

Die Stormers se flank Michael Rhodes het in die eerste helfte gaan druk waarna die immerbetroubare Joe Pietersen die twee verdoelpunte bygevoeg het. Die Canes-vleuel Matt Proctor het ook in die eerste 40 minute agter die doellyn gaan kuier en Beauden Barrett het twee strafskoppe bygevoeg.

Die besoekers het egter die tweede helfte laat tel en die Springbok-bleuel Gio Aplon het gaan druk met Pietersen wat twee strafdoele oorgeklits het.

Die Stormers het geen rede om oorgerus te raak nie want hulle ontmoet die ewe gedugte Blues op hul tuisveld volgende week. Die Kapenaars kan egter versigtig optimisties wees nadat hulle vier punte in die sakkie het ná hierdie oorwinning en nou tweede onder die Suid-Afrikaanse spanne is.

Vir die Canes raak hul speelbult net al hoe steiler met ‘n kragmeting volgende naweek Pretoria teen die verwoestende Bulls. Die Stormers het die Bulls ook ‘n reuse-guns bewys deur die Canes te laat afsak tot sesde op die algehele punteleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.