Stormloop by UJ: een dood, talle beseer

Die ry buite die Universiteit van Johannesburg. Foto: Taurai Maduna, EWN

Een vrou is dood en 17 mense is beseer tydens ʼn stormloop by die Universiteit van Johannesburg Dinsdagoggend, het Johannesburg se nooddienste gesê.

“Een vrou is dood en 17 word vir beserings behandel en sal na die hospitaal geneem word,” het Nana Radebe, woordvoerder vir die nooddienste, gesê. “Omstreeks 07:30 vanoggend het ons ʼn oproep ontvang. Daar word vermoed dat ʼn stormloop plaasgevind het net na die hek oopgemaak is, het sy gesê. ʼn Rampbus is ook op die toneel om die beseerdes, waarvan drie ernstig maar stabiel is, te help. Herman Esterhuizen, woordvoerder vir die universiteit, het gesê dat verdere besonderhede tydens ʼn mediakonferensie om 10:00 by die universiteit bekend gemaak sal word. Marie Muller, registrateur vir die Universiteit van Johannesburg, het aan eNews gesê die voorval het gebeur toe studente in ʼn ry gestaan het om ter elfder ure hul aansoeke vir tersiêre onderrig in te dien. Die universiteit het sedert Maandag glo reeds 5 000 nuwe aansoeke ontvang. Die universiteit was besig om mense wat buite die kampus in ʼn ry gestaan het, weg te wys. Die vrou wat dood is was glo ʼn moeder van een van die voornemende studente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.