Stormweer in Vrystaat eis 5 lewens

ʼn 22-jarige student van die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus, Eugene Coetzee, is die naweek dood toe ʼn tornado die grasdak-chalet by die Vaaldam waar hy en ʼn paar vriende gekuier het, vernietig het.

Coetzee is een van vyf mense wat die naweek dood is in hewige storms en tornado’s wat in die Vrystaat voorgekom het. Verskeie mense is beseer en groot skade is aangerig.

Michael Nethavani, ʼn woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het bevestig dat ʼn tornado die Kestell-gebied getref het. Minstens 55 huise is in dié dorp beskadig en drie huise is heeltemal verwoes. Deneysville, Reitz en Bethlehem is ook deur die stormweer geraak.

Drie lede van die ANC-jeugliga is dood toe die bus waarin hulle gery het, naby Bethlehem omgewaai is, en op ʼn plaas buite Bethlehem is die 24-jarige Manapo Mofokeng dood toe haar sinkhuis inmekaar gestort het.

Intussen berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens dat die winter uiteindelik hier is. Ysige toestande word vandeesweek in groot dele van die land verwag, en stormsterk winde en ʼn rowwe see word teen Dinsdag tussen Tafelbaai en Port Elizabeth verwag. Die stormagtige weer sal teen Woensdag na Lambertsbaai en Kaap St Francis uitbrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.