Stormwinde veroorsaak amok op Mpumalanga-paaie

Foto: ER24

Drie mense is Woensdag ernstig beseer in twee afsonderlike ongelukke nadat bestuurders beheer oor hul voertuie verloor het weens sterk winde in Mpumalanga.

Volgens Derrick Banks, ʼn woordvoerder van ER24, het die ongelukke onderskeidelik op die Leeufonteinpad en N11-pad naby Marble Hall gebeur.

“In die Leeufonteinpad-ongeluk het die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor en van die pad af gery. Die voertuig het verskeie kere gerol en teen ʼn boom tot stilstand gekom. Die voertuig is erg beskadig tydens die botsing en die bestuurder en ʼn passasier was steeds in die wrak toe paramedici by die toneel opgedaag het. Die pasiënte is vir veelvoudige beserings behandel. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na die Groblersdal-hospitaal geneem,” het Banks gesê.

“In die N11-ongeluk het ʼn vroulike motoris beheer oor haar voertuig verloor, wat ook verskeie kere gerol het. Sy was steeds in die wrak toe paramedici by die toneel opgedaag het. Sy het verskeie snye en kneusplekke opgedoen en is vir nek- en rugbeserings behandel,” het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.