Stormy Bay se eerste pelsrob-welpies gebore

Die Suid-Amerikaanse pelsrob, Chicka, met haar welpie, Breeze, staan gereed om geweeg te word.

Die Suid-Amerikaanse pelsrob, Chicka, met haar welpie, Breeze, staan gereed om geweeg te word.

‘n Video volg onderaan die berig.

Die Nasionale Dieretuin in Pretoria se Suid-Amerikaanse pelsrob-kolonie het Desember twee nuwe lede bygekry. Die twee welpies, Angel-B en Breeze, is onderskeidelik op 17 en 30 Desember in die dieretuin se Stormy Bay-kamp vir Kaapse en Suid-Amerikaanse pelsrobbe gebore. Boonop is dit die eerste welpies van hulle soort wat in dié kamp gebore is.

Volgens Craig Allenby, ʼn woordvoerder van die Nasionale Dieretuin, is die toevoeging vir hulle veral besonders omdat die vyf oorspronklike robbe aanvanklik in ʼn baie swak toestand by OR Tambo-lughawe aangekom het. “Die bul en vier koeie was op pad na ʼn akwarium in Shanghai, China in 2008, maar die dieretuin se personeel is ontbied om die diere se gesondheid te monitor omdat hulle so sleg gelyk het,” het Allenby gesê. Die robbe het eindelik ʼn tuiste in Stormy Bay gevind en só goed aangepas dat die kolonie se getalle tans op ʼn totaal van agt staan.

Die twee ma’s, Mia en Chicka, het ʼn wakende oog gehou oor hulle kamerasku-welpies, wat geweeg is voordat hulle aan die media bekend gestel is. Die welpies sal binne drie tot vier maande gereed wees om die dieper waters van Stormy Bay aan te durf en besoekers sal hulle dan vir die eerste keer amptelik kan besigtig. Intussen plas hulle in die vlakker watergate rond saam met Mia en Chicka, waar besoekers ʼn vlugtige blik van hulle kan kry tydens voedingsessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.