Straatnaamveranderinge in Kaapstad gaan voort

Die stadsraad van Kaapstad het Woensdagaand bevestig dat vyf straatname in Kaapstad verander gaan word.

Dié proses is ses jaar gelede begin toe daar aanvanklik voorgestel is dat 24 straatname in Kaapstad verander moet word. Die res van die straatname sal in dié stadium nie verander word nie.

Brett Herron, voorsitter van die naamgewingskomitee, het tydens die raadsvergadering gesê nagenoeg 19 000 inwoners van regoor Kaapstad het aan die proses van openbare deelname deelgeneem.  “Ons besef ons sal nooit almal gelukkig kan maak nie, maar het ’n deursigtige proses gevolg waartydens ons objektief opgetree het,” het Herron gesê.

Coen Steytlerrylaan gaan verander na Walter Sisululaan; Harrierstraat in Parklands verander na Bloukraanvoëlstraat; Hendrik Verwoerdrylaan word Uys Krigerylaan; Modderdamweg verander na Robert Sobukwestraat; en die NY1-pad in Gugulethu verander na Steve Bikorylaan.

Volgens Herron gaan dit sowat ʼn maand neem om die strate se name te verander.

Die ANC was nie te vinde dat onder meer Andries Pretoriusstraat, D.F. Malanstraat en Jan Smutsrylaan onveranderd bly nie. Herron het egter aangevoer dat die besluit geneem is na ʼn omvattende openbare deelname proses en dat die raad nie dié proses gaan minag nie.

Dullah Omar, wyle anti-Apartheid aktivis, se familie het voorstelle van die hand gewys om Vanguardlaan en ʼn gedeelte van Jan Smutslaan na hom te vernoem. Patricia De Lille, die burgemeester van die stad Kaapstad, het Woensdagaand gesê sy sal steeds met Omar se familie kommunikeer om te kan sien hoe die stad sy nalatenskap kan gedenk. “Die familie het voorgestel dat ons hom eerder vereer deur ʼn sentrum op te rig waar arm mense kos kan kry. Ek het gesê ons kan na die voorstel kyk,” het De Lille gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goedgedacht ·

Ek wens daar was ‘n beleid dat geen openbare bakens soos strate, lughawens en gebou na mense vernoem word nie. Na my mening is dit waarom soveel straatname verander word. Dit is so ‘n pyn om die nuwe name gewoond te raak en nog ‘n groter pyn om vir iemand wat nie ‘n plek ken nie aanwysings te gee. Jy praat van Schoemanstraat want almal weet waar dit is in Pretoria. Kom die persoon daar, sien hy dis ‘n ander naam en dink hy is op die verkeerde plek.

Paul ·

Sover ek weet was Dullah Omar ‘n anti-apartheid aktivis ;)

Interessant om wel te sien dat sy naasbestaandes die voorstel om ‘n straat na hom te vernoem, van die hand gewys het – ek kan so ‘n besluit respekteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.