Streepsuiker vir prof. Jansen

Prof. Jonathan Jansen

Prof. Jonathan Jansen

Omstrede uitlatings deur prof. Jonathan Jansen, Kovsierektor tydens die Percy Baneshik-gedenklesing op die UV-kampus het tot ‘n stroom kritiek gelei.

Jansen het onder meer gesê “….eksklusiewe Afrikaanse wit skole hou ’n ernstige gevaar in vir rasverhoudings in Suid-Afrika.” Volgens die mediaverklaring op Kovsies se webwerf het Jansen dit ook gehad teen eksklusiewe Afrikaanse skole – dus nie net dié wat eksklusief wit ook is nie

Jansen het intussen teenoor SAPA gekla dat die berig die “versigtige argument oor taal-inklusiwiteit so verdraai kon word.”

Jansen sê is sy reaksie ‘n mens kan eenvoudig nie “jong mense voorberei om die letsels van die gewelddadige verlede te hanteer sonder om nie gelyke geleenthede in die opvoedkunde te skep as mense nie saam leef en saam studeer nie.”  Hy meen Engels as taal het die speelveld gelyk gemaak en hy het sy mening bevestig dat Engels die taal van versoening is.

Volksblad en Beeld skryf voorts soos volg oor wat Jansen in die lesing gesê het… “Swart ouers verkies dat hul kinders in Engels leer… hulle maak die regte berekening dat die hele ekonomie in Engelse terme georganiseer is en daarom is hul kinders se kans op sukses soveel groter in die kolonietaal.”

Jansen het gesê Afrikaanse taalaktiviste verstaan dié beginsel glad nie en probeer daarom om nie-Engelse tale onder ’n “politieke sambreel” in te skuif “in ’n baie simplistiese plan om die een taal te bevorder, wat as ampstaal vir dekades onder apartheid status en finansiering geniet het”. (Volgens die UV se mediaverklaring het hy dit ook teen eksklusiewe Afrikaanse skole – dus ongeag of hulle ook swart en bruin leerlinge het).

Hy het Engels as onderrigtaal bepleit en gesê moedertaalonderrig waarborg nie beter resultate nie.

Die Afrikanerbond, by monde van die voorsitter, adv. Pieter Vorster was vanoggend vroeg uit die blokke. Vorster het gesê dit is verstommend dat ʼn persoon wat die akademiese hoof is van ʼn instelling waar daar met Afrikaans gewoeker word, sulke onsinnigheide, wat grens aan die naïewe, kan kwytraak. Die vraag kan tereg gevra word of sulke uitlatings in belang van die Universiteit van Vrystaat is?

“Nie net is hierdie standpunte van prof Jansen direk in teenstelling met die Suid-Afrikaanse grondwet nie, maar dit is die standpunte van ʼn persoon wat die ryke diversiteit van Suid-Afrika misken en inderdaad minag. Verengelsing is beslis nie die oplossing vir Suid-Afrika se onderwysprobleme nie en net so is Afrikaans alleen ook nie die oplossing nie.

Veel eerder moet die oplossing gesoek word in die strewe na uitnemendheid deur gehalte moedertaal onderrig. Ongelukkig sluit prof. Jansen nou deur sy uitsprake aan by die geledere van diegene wat eerder Engels bevorder ten koste van Suid-Afrika se diversiteit.”

Alana Baily, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum sê in haar reaksie dat mense vreedsaam en produktief sal saamleef as hulle onderskeie identiteite en kulture (wat taal insluit) gerespekteer word en hulle toegelaat word om dit in vryheid uit te leef. “As almal gedwing word om in Engels onderrig te onvang, gaan die teenoorgestelde gebeur. Onderlinge respek tussen gemeenskappe sal nooit deur die ontkenning en aflegging van eie taal, kultuur en identiteit behaal kan word nie. Akademiese uitnemendheid nog minder.”

“Met sy uitlatings oor die wenslikheid van Engelse, in plaas van moedertaalonderrig en die gevaar wat ‘Afrikaanse wit skole’ sogenaamd vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika inhou, laat prof. Jonathan Jansen nie alleen kommer ontstaan oor die toekoms van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) nie, maar trap hy ook in die slagyster om so diep in politieke ideologie en retoriek vas te val, dat hy akademiese en kulturele regte en beginsels uit die oog verloor.”

Willie de Waal, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies sê Jansen onderskat die waarde wat gemeenskappe in Suid-Afrika aan Afrikaans heg. Dit is nie net ʼn taal nie, maar deel van wie ons is. “Jansen, pleeg bedrog teen minderheidsgemeenskappe omdat hy juis steun verwerf het op die voorwendsel dat hy ten gunste van moedertaalonderrig is en spesifiek Afrikaanse onderrig steun.”

Die Vryheidsfront Plus, by monde van sy leier, dr. Pieter Mulder, het gesê prof. Jansen argumenteer eintlik oor wat hy as die beste resep vir versoening en nasiebou sien. Dan eindig hy verkeerdelik by Engels as onderrigtaal. “Nasiebou en versoening word juis bevorder as elkeen se menswees en waardigheid erken word. ‘n Belangrike deel van my menswees en waardigheid is juis erkenning van my moedertaal, ongeag of dit Venda, Afrikaans of Engels is… Prof. Jansen maak dus ‘n fout as hy argumenteer dat kinders van die eerste skooldag af in Engels onderrig moet word ten einde Engels onder die knie te kry. Die Wiskunde- en Wetenskap-resultate van kinders wat in hulle moedertaal, soos byvoorbeeld Afrikaans, onderrig is, is beduidend beter as kinders wat hierdie vakke deur medium van hulle tweede en derde taal moet aanleer. Hy is wel korrek as hy argumenteer dat onderrig in sommige Afrikatale tans swak is. Die antwoord is om hierdie onderrig te verbeter.”

Ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party, sê hy is bekommerd oor die rektor van Kovsies, prof. Jonathan Jansen se jongste opmerkings oor onder meer onderrigtaal omdat dit wetenskaplik onjuis is, en op ‘n pleidooi vir die verkragting van die grondwet neerkom.

““Jansen is ‘n voorste transformasiedrywer wat reeds byna alle spore van Kovsies se Christelike erfenis, soos die gebed by gradeplegtighede en die logo, verwyder het, en nou lyk dit of hy sy korrel op Afrikaans rig. As dit wat Jansen propageer werklik transformasie is, dan is transformasie ‘n euwel wat soos apartheid op die ashoop hoort.

“Ons doen ‘n beroep op Jansen om nie die grondwet te ondermyn ter wille van politieke vlieëvangery nie.”

Lees ook:
Prof. Jansen se opmerkings oor Afrikaans krap
Nuuskommentaar: Transformasie en apartheid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Flash ·

Ek wil tog voorstel dat so rassis soos Jansen onmiddelik uit sy amp verwyder word. Kovsies is ‘n Afrikaanse balnke instelling wat deur die ANC rassistiese regime gekaap en getransformeer (lees geruieneer) is.
Sy tipe maak geen bydrae nie en is ‘n netto entropie versterker. (Entropy booster).

Somerset Morkel ·

Man, ek is kwaad vir die prof, maar die eerste kommentaar hierbo van FLASH is buite orde… Dit is nou in goeie Afrikaans, ‘kommintaar’. God het die prof immers daar geplaas boet – en om ons van die Bose te verlos sou ook goed wees as Hy jou taalgebruik (nogal in Afrikaans) kon sensor. Ek het dit daarteen dat jy, as mede-Afrikaner, die Naam vd Heilige Vader in die hemel daarby insleep en so vertrap en bevuil. Dit is BAIE erger, boet, as die sonde vd prof.. Mag sy sonde, en joune, net maar ‘n FLASH in-the-pan wees. Nietemin: Die prof is ook buite orde, en hy kry goed slae, en dis ook goed. Hy lieg natuurlik as hy se hy is verkeerd aangehaal – dis ‘n ou storie daardie. Maar dit is goed dat mense wat hulle vooropstel met pro-ANC-twak, bietjie uitgesorteer word.

Vas Vat ·

Prof, dit is ouers se reg, hulle betaal ten duurste vir privaat skole.

Abie Blaauw ·

Ek staan verstom oor dit wat ek lees. Het nog altyd Prof Jansen gerespekteer as ‘n gebalansseerde akademikus wat die dinamika van menswees / volkwees verstaan. Nou val hy van die wa af en doen sy eie reputasie skade aan. Ons is in Afrika gestraf / geseend met meertaligheid wat – afhangende watter politieke baadjie jy aantrek – of die een of die ander kan wees. Jansen kyk gewis die borrelende, skeppende krag van ‘n taal soos Afrikaans mis as hy dit wil negeer tot iets behorende aan die verlede. Die Franse is die beste voorbeeld van ‘n volk wat kan dink en doen in hulle eie taal en wat weier dat hulle kinders aan die Engelse taal se dominansie onderwerp word – so is daar talle Europese, Oosterse en Westerse lande wat dieselfde resep volg. Net in Afrika kry die muishond wat Afrikaans heet. Die voordele (opheffend, kultuurvormend, beskawend, ens) wat hierdie taal vir Afrikaanssprekendes (ongeag ras of geslag) ingehou het en steeds inhou, is een van die kosbaarste kleinode van hierdie kontinent. Vergelykbaar is die Portugese taal in Angola, Mozambiek en elders.
Die vooroordeel teenoor Afrikaans as taal sal NOOIT verdwyn nie omdat die mense wat hierdie taal besig, hulle deur die geskiedenis heen bewys het en vandag steeds bewys as kritiese denkers wat ‘n positiewe bydrae tot die vooruitgang van die mensdom kan lewer. Dit skep afguns en as jy diep in jou hart jouself as ‘n tweedeklas burger sien, moet jy iemand anders daarvoor blameer om jou eie minderwaardigheidsgevoel te verbloem. Dra jy kulturele agterstandsbagasie met jou saam, sal jy ‘n kulturele agterstaander bly – ‘n tweedeklas burger wat homself in die posisie inforseer deur onsinnighede kwyt te raak oor mense / ‘n taal wie jy eintlik beny………

wragtig ·

Kom ek probeer maar weer. Miskien haal hulle nie weer my kommentaar af nie. Die jansen is seker n prof in strooi praat hy tender nou met die afrikaanse mense. Hy moet liewer sy mond hou en uittree voor iemand dit vir hom toemaak permanent.

H J Bester ·

Ek het Prof Jansen nog altyd beskou as ‘n gematigde en nugtere akademikus. Verder verrig hy wondere aan die Vrystaatse Universiteit en bly dit ‘n tuiste vir studente oor alle kleur- en kultuurgrense heen.

Indien hy korrek aangehaal is ten opsigte van sy siening oor die plek van Afrikaans, het hy sy hand definitief oorspeel en moet hy weet hy het homself die gramskap van vele Afrikaners op die hals gehaal. Ek stem hoegenaamd nie met hom saam nie – inteendeel is baie teleurgesteld in iemand wat ek nog altyd as ‘n groot ambassadeur vir versoening en goeie betrekking oor rasse- en taalgrense heen gesien het.

Hoop van harte Prof Jansen stel die saak tot almal se tevredenheid reg.

Amy ·

Die ‘bose’ regeer ons land, en as ons nie gou weet terug draai na God nie, gaan ons nooit verlos word an hulle nie.

En oppas maar ook vir die AFRIKANERS. As hule eers hul rug op hul taal gedraai het, is dit oor-en-verby.’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.