Strop trek nouer om man wat met kleuter op motorfiets jaag

 

Foto: YouTube

Foto: YouTube

Justice Project South Africa (JPSA) het Donderdag bevestig dat die man wat afgeneem is terwyl hy met ʼn motorfiets deur Johannesburg se strate jaag terwyl ʼn kleuter styf aan hom vashou, uitgeken is en dat ʼn saak teen die man by die polisie aanhangig gemaak is.

Maroela Media het verlede Dinsdag berig ʼn Johannesburgse inwoner was geskok om te sien hoe ʼn kleuter, met slegs ʼn blou fietsvalhelm op, aan die motorfietsryer vasklou terwyl hy deur die stad se strate jaag en ʼn rooi verkeerslig verontagsaam. Die gebruiker Rad Bonos het verlede Maandag ʼn video van die voorval op YouTube gelaai en dit het vinnig skokgolwe op sosiale netwerke veroorsaak. Die video was Donderdag teen 15:00 al meer as 216 000 keer gekyk.

Nadat die publiek en ander motorfietsryers hul misnoeë oor die voorval uitgespreek het, het JPSA ʼn beroep gedoen op die persoon wat die video geneem het om na vore te kom. “Gelukkig het die persoon met ons in verbinding getree en ʼn amptelike klag is verlede week by die polisie aanhangig gemaak,” het JPSA in ʼn verklaring gesê. ʼn Ander ooggetuie het ook die JPSA gekontak en die motorfietsryer uitgeken, maar die persoon wou anoniem bly en nie ʼn verklaring aflê nie.

“Volgens ons inligting is die bestuurder van die motorfiets die kleuter se 51-jarige pa. Die pa het glo onlangs die motorfiets bekom. Hy word onder andere aangekla van roekelose en nalatige bestuur, die bestuur van ʼn motorfiets sonder die besit van ʼn wettige bestuurderslisensie, en omdat hy ʼn kind se lewe in gevaar gestel het.”

“Die aanklagte is baie ernstig en as die persoon skuldig bevind word kan hy óf swaar beboet óf tronkstraf opgelê word of albei. Tronkstraf van tot 20 jaar kan opgelê omdat hy die kind se lewe in gevaar gestel het.”

Die saak word deur die polisie ondersoek. Die polisie versoek meer ooggetuies wat bereid is om ʼn verklaring af te lê om na vore te kom om die staat se saak te versterk. Mense wat bereid is, kan die ondersoekbeampte, lt.kol. Baloyi, van die Edenvale-polisiestasie op 011 453 1134 of 082 822 7978 skakel. Die saaknommer is Edenvale CAS 472/08/2013.

Lees ook:
Polisie op die spoor van man wat op motorfiets met kleuter jaag
Video: Kleuter klou vir haar lewe terwyl motorfiets jaag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Willy ·

Een en vyftig en nog nie logika nie!
Met al die bewyse en die hy hardloop nog steeds weg, versleg sy saak net baie meer.
Nee wat so ‘n breinlose moet maar toegesluit word.

JAVR ·

Daar is net mense wat NOOIT volwasse word nie! Nee wat geen simpatie met hom nie! Hoop hulle lê beslag op daai doodskis op wiele!

Trippie ·

Sal nou dink op 51 het mens darem al verstand … nee wat, hierdie ou het regtig met sy dogtertjie en dié van ander mense se lewens gedobbel – dis onverskoonbaar.

Dink nie ‘n boete gaan die ding doen nie – sluit hom toe, of laat hom in ‘n lykshuis werk.

Willy ·

Cheers julle. Ek het vandag weer lekker met die span gekuier.
Ons maak weer so.
Ek gaan nou die clutch los.
Veilig ry.
Lekker aand.

Madelein Roux ·

Nou wil ek ‘n klip in die bos gooi – wat van al die motoriste wat hul kinders op die sitplekke laat staan, terwyl hulle bestuur, sonder dat die kinders vasgegordel is? Is daardie bestuurders nie self net so skuldig soos hierdie motorfietsryer nie aan roekelose bestuur en dat hulle hul kinders se lewens ook in gevaar stel nie? Hoogtyd dat daar teen sulkes opgetree word!

Boere-meisie ♡ ·

Ai, my 10jarige kind was ontsteld oor die video. Ek het net die geklou gesien tot hy vir my gese het “mamma sy het nie eers ‘n bike helmet op nie” …. vir 51 is die pappa maar ‘n pampoenkop, of hoe ?!?!?! En ja die idiote wat hulle kidos so op die voorste sitplekke laat staan moet beslis ook gebrand raak !

Eben ·

Nou moet die publiek weer help om die ou aan te keer. Komaam lt.kol. Baloyi lig jou allie en doen julle werk self. Julle maak nou n moerse ding hiervan (ek praat dit nie goed) omdat die man blank is, was dit nie, dan het daar niks van gekom.

” ….. persoon skuldig bevind word kan hy óf swaar beboet óf tronkstraf opgelê word of albei. Tronkstraf van tot 20 jaar kan opgelê omdat hy die kind se lewe in gevaar gestel het” Het ek lekker gelag nou Baloyi oor die opmerking, wat van al die taxi drywers wat my en ander mense se lewers ingevaar stel! Kom vertel my oubaas se honne!

A Theyse ·

Op watter ouderom begin “mid-life crisis”? Onlangs die motorfiets gekoop en ry sonder lisiensie op 51…?

Paul ·

Jy mag maar jou kind op ‘n voeruig se sitplek laat staan of sonder die karstoeltjie laat saam ry, jy mag maar self sonder jou veiligheidsgordel ry, maar pasop dat jy nie gevang word nie want daarna sal jy dit nie weer doen nie. Kyk of jy nie met die verkeersowerhede in jou omgewing kan reël om net eenkeer ook by ‘n padblokkade te kan bywees en jy sal verbaas wees wat met sulke oortreders gebeur. Dit word net nie altyd aan die groot klok gehang nie wat nogal ‘n jammerte is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.