‘Stropers’ in Krugerpark aangekeer

‘n Vermeende stroper is geskiet en vier ander oor die langnaweek in hegtenis geneem in die Kruger Nasionale Park.

“Die verdagtes is in onderskeie voorvalle in hegtenis geneem nadat hulle Saterdag en Maandag deur wildbewaarders opgemerk is,” het Ike Phaahla, woordvoerder van SANParke, Woensdag gesê. “Die eerste drie is in die Tshokwane-gebied in hegtenis geneem nadat hulle Saterdag die park van Mosambiek betree het. Die ander twee is in die Malelane-gebied van die park opgemerk waar een van hulle Maandag raakgeskiet is.” Die verdagte is onder polisiebegeleiding hospitaal toe geneem.

Die polisie het tydens die inhegtenisnames beslag gelê op ‘n knaldemper, drie hoëkaliber-jaggewere, ammunisie en ander strooptoerusting.

Intussen het die departement van omgewingsake bekendgemaak dat 633 renosters reeds dié jaar gestroop is. “Die Kruger Nasionale Park het 395 renoster weens stropery verloor. Noordwes, KwaZulu-Natal en Limpopo word die ergste geraak deur stropers en 197 renosters is in dié drie provinsies gestroop,” het die departement in ‘n verklaring gesê.

In 2011 is 252 renosters in die Kruger Nasionale Park gestroop, 74 in Limpopo, 21 in Noordwes en 34 in KwaZulu-Natal.

Tweehonderd-ses-en-sestig mense is reeds dié jaar in verband met renosterstropery in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.