Stryd(e) van die Titane wag

Met die Leeus so goed as in die eindstryd, is daar baie vir die Titane en die Ridders op die spel na hulle gisteraand hul tweede en derde plekke op die T20-reeks behou het.

Die Leeus het teen die Krygers aapstert gekry, maar is op 25 punte drie punte voor die Titane, wat die Dolfyne met redelike gemak kafgedraf het. Die Ridders volg met een punt minder na hulle die Kaapse Kobras se pik vrygespring, en met die derde laaste bal van die wedstryd Kobras se tande met ‘n vier uitgemoker het. Die span wat bo-aan die liga eindig, dring regstreeks tot die eindstryd op 7 April deur, terwyl die tweede en derde spanne mekaar in ‘n halfeindstryd moet pak.

In die laaste ligawedstryde speel die Titane en die Ridders Dinsdag in Bloemfontein teen mekaar, en die Leeus en Dolfyne pak mekaar die 28ste in Johannesburg. Die verloorder van die Titane se wedstryd teen die Ridders kan nog deur die Krygers uit die trofeewedloop geknikker word. Die Krygers, wat soos die Dolfyne ‘n wedstryd minder agter die blad het, kan nog sake vir die Titane en Ridders deurmekaar krap. Die Dolfyne en die Kobras se verdere deelname is van akademiese belang. Dinsdag se Bloemfonteinse wedstryd kan vuurwerke oplewer. Beide spanne het spelers wat die wedstryd op sy kop kan omkeer. Terwyl die Titane ‘n arsenaal manne het wat met die wilgerlat die telbord kan laat sing, waaronder Davids, Van der Merwe, Berhardien en Albie Morkel, hang baie vir die Ridders af of Loots (Bazooka) Bosman sy paaltjie gaan behou. Elgar lyk bestendig, maar die ander lede van die mokerbattery, Rossouw, Pienaar, Van Biljon, Van der Wath en Du Preez neig om wisselvallig met die kolf te wees.

Die aandag verskuif egter nou eers môre na Benoni waar die beslissende eendagtoets tussen Pakistan en Suid-Afrika plaasvind. Die Proteas moet die wedstryd sonder Graeme Smith aandurf. Smith, wat maar ‘n bedroewende reeks beleef, se seer enkel kan ‘n bedekte seën wees as die jong Quinton de Kock, wat skitterend op stryk is, as aanvangskolwer moet instaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.