‘n 20-jarige student aan die Universiteit van Kaapstad is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal nadat sy van die vyfde verdieping van ʼn koshuiswoning geval het.
Die Cape Times berig Jacqueline Hart-Davies, ʼn tweede jaar-handelstudent, het by haar kêrel gekuier by die Leo Marquard-koshuis toe die voorval plaasgevind het. Volgens inwoners van die koshuis het hulle ʼn venster hoor breek en toe ʼn meisie hoor gil. Hart-Davies het glo teen traliewerk gestaan toe dit meegegee het en sy vyf verdiepings ver geval het. Die voorval het glo omstreeks middernag Donderdagaand plaasgevind. Hart-Davies het glo op ʼn sementblad geval en haar rug, arm en been gebreek. Sy word in die Vincent Pallotti-hospitaal behandel. Haar pa, Paul Hart-Davies het aan die Cape Times gesê dit is ʼn “wonderwerk” dat sy dogter leef. Hart-Davies sê sy dogter se een nier is verwyder terwyl talle van haar ander organe herstel moes word. Hy sê dokters sal na verwagting Maandag aan sy dogter begin opereer.