Studie: ‘Afrikaanse leerders wil in Afrikaans studeer’

Afrikaanse leerders wil in Afrikaans studeer, is positief oor die toekoms en glo dat hulle, deur harde werk, self beheer oor hulle toekoms kan neem.

Dié resultate is deel van ’n omvattende studie wat deur die Solidariteit Beweging se opleidingsinstelling, Akademia, bekendgemaak is. Die studie is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) uitgevoer. Akademia is onlangs bekendgestel as die eerste been van die Solidariteit Beweging se volwaardige nuwe Afrikaanse universiteit.

Die studie is in 99 Afrikaanse hoërskole onder gr. 10- en 11-leerders landswyd gedoen. Luidens die studie wil 95% van die leerders ná skool gaan studeer en sowat 70% wil in Afrikaans studeer. Verder is 70% van mening dat daar ’n behoefte aan ’n Afrikaanse universiteit is. Die studie toon voorts dat 74% van hulle daarna streef om by ’n universiteit te studeer en ongeveer ’n derde by ’n tegniese kollege. Luidens die studie is meer as ’n driekwart (78%) van die Afrikaanse kinders wat aan die studie deelgeneem het positief oor die toekoms; 72% van hulle glo dat hulle aan ’n toekoms bou deur nou hard te werk; en 70% voel dat hulle beheer het oor die toekoms. Daarby het 83% van die respondente aangedui dat dit die moeite werd is om ná skool verder te studeer. “Die resultate skets ’n prentjie van hoop. Die kinders meen hulle kan deur verdere studie en harde werk ’n toekoms vir hulself skep. Met hierdie soort ingesteldheid gaan Afrikaanse kinders hulle in ʼn toekoms in presteer,” het Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, gesê.

“Byna twee derdes (60%) van die leerders is egter onseker of daar ná hulle studies nog genoeg werksgeleenthede gaan wees. Ten spyte van hierdie onsekerheid het die jongmense gesê hulle is positief oor die toekoms. Dit beteken dat hulle bereid is om self verantwoordelikheid vir hulle toekoms te neem.” Uit die studie blyk dit dat 78% van die leerders Wiskunde as skoolvak neem. Hulle sorg dus ook dat hulle deur hulle vakkeuses reg vir die toekoms geposisioneer is. Ingenieurswese is die gewildste beroep onder die leerders, met onderwys en beroepe in enige IT-rigting gelyk in die tweede plek. Finansiële rigtings is ook baie gewild. “As jongmense wil leer en in die regte rigting studeer, kan hulle vir hulle ’n toekoms skep,” het Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia, gesê.

Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.