ʼn Man het in 1959 op reis langs die Donau-rivier in Wene verdwyn.
Hoewel sy liggaam nie gevind kon word nie, is hy dood verklaar. Daar was min bewyse, maar die speurders het ʼn verdagte geïdentifiseer en op ʼn paar modderige stewels beslag gelê. Sonder ʼn bekentenis of ʼn liggaam het die aanklaers se saak egter hopeloos gelyk.
Wilhelm Klaus, palinoloog aan die Universiteit van Wene, het die stewels bestudeer en bevind dat die modder spore van denneboom, wilger en els bevat het. Daar was ook spore van stuifmeelkorrels wat afkomstig is van ʼn boom wat nie meer in Oostenryk gegroei het nie, maar wel in ʼn klein gebied langs die Donau-rivier.
Toe hierdie inligting aan die verdagte voorgelê is, het hy bekendgemaak waar hy van die liggaam ontslae geraak het. Sedert dié saak meer as 50 jaar gelede, word stuifmeel al hoe meer gebruik om kriminele en siviele regsake op te los.
Dr. Dilys Berman, stuifmeelontleder aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se longinstituut, sê die vordering wat gemaak word in forensiese palinologie is besig om kriminele ondersoeke en vervolgings oor die wêreld heen te transformeer.
“Namate die aantal gevalle toeneem waar stuifmeel suksesvol as bewyse gebruik word, neem die verskeidenheid potensiële gebruike daarvan ook toe. Stuifmeel kan gebruik word om misdade op te los wat verband hou met vervalsing, onwettige dwelms, aanranding, roof, verkragting, moord, terrorisme en brandstigting.
“Dit kan ook gebruik word om verskillende soorte siviele sake op te los, soos die verifikasie van skilderye, vervalste oudhede en dokumente, verwydering van artefakte van historiese of argeologiese terreine, onwettige besoedeling van die omgewing of die stropery van diere en visse.”
Berman sê daar is byna ʼn halfmiljoen verskillende plantsoorte op die planeet en dat ʼn deeglike begrip van die plantekologie en plantgemeenskappe in en om ʼn misdaadtoneel noodsaaklik is. Kennis van die produksie, verspreidingspatrone, bewaringspotensiaal en identifisering van stuifmeelspore om geïnterpreteerde forensiese stuifmeelmonsters te interpreteer is ook belangrik.
“Stuifmeelkorrels kan lank ná die gebeurtenis op ʼn misdaadtoneel agterbly. Die feit dat dit klein, baie wisselvallig en op byna enige iets voorkom wat daaraan blootgestel is, maak dit ideaal vir forensiese spoorstowwe.
“Stuifmeelkorrels kan met behulp van forensiese instrumente van grond, tou, dwelms, lugfilters, plantmateriaal, asook dierlike en menslike materiaal geïsoleer word.”
Elke streek het ook sy eie unieke stuifmeelsamestelling wat relatief onvernietigbaar is, selfs al word klere gewas.
As stuifmeelmonsters op ʼn korrekte en tydige manier ingesamel word, is dit selfs moontlik om te weet wanneer die misdaad gepleeg is. Veel daarvan het te make met die bestuiwingsiklusse van verskillende plante, daarom is stuifmeelmonitering belangrik.
“Stuifmeel wat in die graf van die farao Toetankamen gevind is, het gehelp om die datum van sy internering vas te stel,” sê Berman.
Daar is ook ʼn geval waar stuifmeel wat op die omhulsel van die kleed van Turyn gevind is, gehelp het om die oorsprong daarvan te bepaal. Die kleed het sy oorsprong in Getsemane wat ʼn tuin in Jerusalem was. Die soort stuifmeelspesies wat op die omhulsel gevind is, het al vir millennia in dié omgewing geblom.
Dankie.
Dit is nog steeds nie die einde van ons ontdekking van die wonder van die skepping nie.
Daarmee saam die wonder van die mens se potensiaal.