Stygende matriekslaagsyfer is “politieke oëverblindery”

Minister Angie Motshekga tydens die bekendmaking van die 2013 matriekslaagsyfer. Foto: GCIs/SAPA

Minister Angie Motshekga tydens die bekendmaking van die 2013 matriekslaagsyfer. Foto: GCIs/SAPA

Die jaarlikse viering van die sogenaamde stygende matriekslaagsyfers is bloot politieke oëverblindery ten koste van die toekoms van die land en sy mense, het die burgerregte organisasie AfriForum Dinsdag gesê.

 
AfriForum neem kennis van die feit dat die matriekslaagsyfer volgens Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, van 73,9% in 2012 na 78,2% in 2013 gestyg het,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Indien egter gekyk word na die aantal leerders wat in 2002 in graad een was en hulle matriekjaar in 2013 suksesvol voltooi het, is die werklike slaagsyfer egter minder as 38%.
 
Volgens Bailey dui ʼn verslag van die onderwysdepartement aan dat 1 168 581 leerders in 2002 in graad een was.  Volgens die matriekuitslae wat die minister vandag bekend gemaak is, het slegs sowat 562 000 leerders in 2013 die matriekeksamen geskryf (ongeveer 48%), waarvan 78,2% geslaag het. Dit beteken dat die werklike slaagsyfer van 2002 se graad 1-leerders minder as die helfte van die amptelik aangekondigde persentasie was.
 
Onafhanklike toetse dui aan dat die taal- en syfervaardighede van matrikulante wat slaag, dikwels van so ʼn swak gehalte is dat hulle moeilik in diens geneem kan word.  Die situasie van diegene wat nie eens hulle skoolloopbaan voltooi het nie, is nog meer desperaat,” het Bailey bygevoeg. Sy sê die inwerkingstelling van ʼn jeugloonsubsidie is goed en wel, maar as die departement van basiese onderwys jaarliks minder indiensneembare jongmense lewer, word die jeug jammerlik in die steek gelaat.
 
Dit is dringend noodsaaklik dat die minister en haar departement aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos handboeklewering, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, disfunksionaliteit van skole en ʼn gebrek aan moedertaalonderrig die hoof te bied. Tot dit gebeur, is die jaarlikse viering van sogenaamd stygende matriekslaagsyfers bloot politieke oëverblindery wat ten koste van die toekoms van die land en sy mense geskied”, het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

william ·

Dit is n valse prentjie wat aan die publiek voorgehou word. Eers as onderwysers ordentlik opgelei word en hulle hul plig erstig opneem . Waarom is sekere kolleges sommer toegemaak. ? Die ministers is nie opgewasse vir die taak nie.

Griet ·

Die volgende behoort ook interesssante inligting te wees:
– Hoeveel kandidate het Universiteits (of ENIGE Tersiêre instansie) vrystelling
– Hoeveel kandidate se simbole is (alle vakke) bo 50%
– Hoeveel Kandidate het geslaag met Universiteits vrystelling wat sou kon kwalifiseer vir rigtings soos Medies, Ingeneurswese, Rekenkunde, Inligtings tegnologie, ens (die sg. “Skaars vaardighede”)

Dan eers kan naastenby bepaal word of die Basiese onderwys stelsel ‘n groep jongmense in 2013 opgelewer het wat die potensiaal het om ekonomies (en andersins) aktief by te dra tot die ontwikkeling van die land.

Die res is van uiterste (on)akademiese belang en bloot ‘n politieke beulblasery wat absoluut NIKS beteken vir die vooruitgang en ontwikkeling van die land en sy mense nie….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.