‘n Groot lansie is vir Suid-Afrika se boere gebreek toe Suid-Afrika die veertigste plek op die ranglys van lande vir voedselsekerheid ingeneem het, hoewel 27 persent van die bevolking ondervoed is. Die indeks is pas bekend gemaak.
Die DRK neem die 105de posisie in, die laagste van lande wat op die indeks vir wêreldvoedselsekuriteit aangedui word.
Zimbabwe het nie die lys gehaal nie, terwyl Zambië wat mielies na Zimbabwe uitvoer, in die 95ste plek lê.
Die VSA is bo-aan die lys, gevolg deur Denemarke.
Op die indeks vir bekostigbaarheid neem Suid-Afrika die 38ste plek in, en by beskikbaarheid die 33ste plek. Kom dit egter by kwantiteit en veiligheid, sak Suid-Afrika tot die 52de plek terug.
Die boonste lande is meestal lande van die Europese Unie en lande soos Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Israel, wat andersins nie onder die top 20 tel nie, en byvoorbeeld op die saamgestelde indeks die 22ste posisie inneem, slaan die eerste plek toe by die indeks van kwantiteit en veiligheid.