Statistiek Suid-Afrika het bekendgemaak dat die land se bevolking die 50-miljoen kerf oorgesteek het. Volgens die agentskap word die bevolking tans op sowat 50,59 miljoen geskat.
Die skatting is gegrond op die sensus van 2001. ʼn Nuwe sensus word egter later vanjaar gehou. Gauteng is digste bevolk van die provinsies met 22,47 persent van die land se mense wat hier woon terwyl KwaZulu-Natal in die tweede plek is. Die Noord-Kaap het die minste mense in die land. Suid-Afrika se lewensverwagting is tans 54,9 jaar vir mans en 59,1 vir vroue.