Suid-Afrika laaste op Volhoubaarheidsindeks a.g.v. omgewingsagteruitgang

nuwe SA-vlag“Die regering misluk daarin om ’n volhoubare toekoms vir Suid-Afrika te verseker. Hul ontwikkelingsplanne fokus op die opkomende verkiesings aanstaande jaar in plaas van langtermynvolhoubaarheid. Ons het langtermynoplossings nodig vir maatskaplike, ekonomiese en omgewingskwessies deur die volhoubare aanwending van ons natuurlike bronne, terwyl ons die omgewing beskerm vir toekomstige geslagte,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, Donderdag gesê.

Die internasionale bank en beleggingsmaatskappy, Standard Chartered Bank het hul Standard Chartered Development Index-verslag vrygestel wat maatstawwe, insluitend bruto binnelandse produk (BBP) per capita, onderwys, lewensverwagting, omgewingsgesondheid en die volhoubaarheid van die omgewing gebruik om die langtermynontwikkelingspotensiaal van verskeie lande te assesseer. Suid-Afrika het die laagste telling gekry, breedweg gegrond op die afname in lewensverwagting oor die tydperk tussen 2000 en 2012, en die langtermynvolhoubaarheid van die omgewing, volgens die Mail & Guardian.

Suid-Afrika het ’n hoër BBP in vergelyking met ander Afrika-lande, maar het swak presteer op al die ander terreine. “Suid-Afrika het veral swak presteer in die kategorieë wat te make het met omgewingsgesondheid, waterbronne, klimaatsverandering en die groeikrag van die ekostelsel,” het Kleynhans gesê.

President Jacob Zuma het verlede week by ’n geleentheid in KwaZulu-Natal gesê Suid-Afrikaners moet onthou dat die land een van die droogste op aarde is. “Nie ’n druppel mag gemors word nie, nie ’n druppel mag besoedel word nie en alle infrastruktuur moet in stand gehou word. Water is lewe. Laat ons dit bewaar, respekteer en geniet,” het pres. Zuma gesê. Hy het verder gesê water is ’n basiese behoefte, maar ook ’n basiese mensereg.

“As gevolg van besoedeling wat gereeld in plaaslike munisipaliteite plaasvind, ’n gebrek aan die afdwinging van waterwette en watervermorsing as gevolg van swak instandhouding glo ons nie dat die regering dié belangrike saak as ’n prioriteit beskou nie,” het Kleynhans gesê.

Jonathan Deal, die hoof uitvoerende beampte van Treasure the Karoo Action Group het gesê dit wek groot kommer dat die Suid-Afrikaanse regering selfs die lisensiëring van skaliegasontginning in van die sensitiefste streke van die land oorweeg. “Aansoeke vir skaliegasontginning oor ’n groot deel van die land, wat die Karoo, Vrystaat, die Oos-Kaap, die Kalahari en KwaZulu-Natal insluit, is ingedien en bykomende aansoeke kan in die toekoms verwag word,” het Deal gesê.

“Die regering is die bewaarder van die land se minerale en waterbronne. Hulle is veronderstel om volhoubare ontwikkeling en die nakoming van omgewingswette te verseker, maar hulle misluk duidelik daarin om hierdie take uit te voer.”

Word ’n AfriForum-lid en staan saam vir ’n veilige en volhoubare natuurlike omgewing in Suid-Afrika. SMS jou dorp se naam na 37722. R1/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Meisie ·

Al wat ons regering op hierdie stadium wil volhou ,,, is KORRUPSIE!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.