Suid-Afrika sak terug op die indeks vir ekonomiese vryheid

Suid-Afrika beklee die 74ste plek uit 177 lande wat beoordeel is op die jongste indeks vir ekonomiese vryheid van die Wall Street Journal en die Heritage Foundation, maar boer agteruit. Nogtans het Suid-Afrika die sesde mees vrye ekonomie in Afrika suid van die Sahara.

Hong Kong beklee die eerste plek wêreldwyd, gevolg deur Singapoer en Australië, en dan Nieu-Seeland en Switserland. Zimbabwe, Kuba en Noord-Korea neem die laaste drie plekke in.

Suid-Afrika vaar 0,9 punte swakker as verlede jaar en dit is die vyfde agtereenvolgende jaar dat Suid-Afrika die kreeftegang gaan. Dit is ook die tweede swakste posisie in 19 jaar.

Die rede vir die agteruitgang wat verskeie kere by die bespreking van Suid-Afrika voorkom, is korrupsie. Die grondslae vir ‘n vrye ekonomie in Suid-Afrika is nie goed gevestig nie, en word ook nie behoorlik beskerm nie, lui die verslag. Suid-Afrika word ook deur oorregulering gestrem.

Suid-Afrika vaar beter as sy Brics-vennote. Brasilië beklee die 100ste plek, Indië die 119de plek, China die 136ste en Rusland die 139ste plek. Almal, behalwe Brasilië, verbeter egter hul posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.