Suid-Afrikaner gaan poog om drie dae aaneen te braai

BraaiBoy, ʼn boorling van Pretoria, gaan volgende week poog om die Guinness-wêreldrekord vir die langste braai te verpletter.

Die huidige rekord staan op 32 ure, maar BraaiBoy beplan om dit byna te verdubbel deur 60 ure agter ʼn braaivleisvuurtjie te staan.

Gareth Daniell, oftewel BraaiBoy, het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 tydens ʼn kuiersessie, om sy verjaardag te vier, besluit het om elke dag daarna te braai. “Ons het daai aand gebraai en ek het vir my vriende gesê dat braaivleis só lekker is, ek sal elke dag daarvan kan eet,” het BraaiBoy aan Maroela Media gesê.

“Dit het eers as ʼn ‘dare’ begin, waarby ek gehou het. Ek is uitgedaag om elke dag, kom reën of sonskyn, vir ʼn jaar lank te braai. Die jaar het gekom en gegaan en ek het besluit om aan te hou braai,” het hy gesê. Sedertdien het hy nog nie een dag gemis nie en is hy boonop ver van moeg vir braaivleis af. Hy erken dat hy sommige dae selfs meer as een keer braai, veral oor vakansies.

Daar is tans nie ʼn Guinness-wêreldrekordkategorie vir die langste wat ʼn persoon dag vir dag aaneen gebraai het nie. Daarom het BraaiBoy besluit hy gaan probeer om dié dapper drie-dae-aaneen-braaiery aan te pak. Hy gaan dus poog om sy naam in die ‘Longest Time To Continuously Cook Food Items On A Barbecue’-kategorie te verewig.

Die poging begin om 08:00 op 23 Augustus by SuperSportpark in Centurion. Maroela Media sal daar wees om dié gebeurtenis te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.