Suid-Afrikaner maak gestrande Costa Concordia weer vlot

ConcordiaDie Italiaanse passasierskip, die Costa Concordia, wat op 13 Januarie verlede jaar op ’n rif naby die eiland Giglio, naby Italië se weskus gestrand en omgeslaan het, is vandag, ná ’n gespook van 19 ure weer regop getrek.

Nick Sloane, ’n Suid-Afrikaanse ingenieur, het die projek, om die Costa Concordia weer vlot te kry, gelei. Sloane het, nadat die skip eindelik regop getrek kon word, ’n heldeontvangs op die eiland gekry. Die nuus dat hierdie eerste fase van die herwinning van die passasierskip ’n sukses was, is intussen deur sirenes in die Giglio-hawe aangekondig.

Roltoue is gebruik om die reuse skip, wat 300 meter lank is en 115 000 ton weeg, stadig regop te trek. Dit is die eerste keer dat so ’n groot vaartuig deur dié tegniek weer vlot gemaak is. Die ergste skade aan die romp van die skip sal in die komende maande herstel word sodat dit oor ses maande, ná die Italiaanse winter, weggesleep kan word.

Twee-en-dertig mense is in die ramp dood en ’n hernude soektog na twee mense wat nog vermis word se lyke, sal nou begin. Intussen sal die skip se kaptein, Francesco Schettino (52) weer op 23 September in die hof verskyn. Schettino is onder huisarres en staar ’n aanklag van manslag in die gesig. Hy het die skip verlaat voordat die ongeveer 4 200 passasies en bemanning veilig die skip verlaat het.

Aanklaers sê die skip het die rotse getref toe dit gevaarlik naby aan Giglio gevaar het.

http://youtu.be/_91A9FzxQ78

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

H J Bester ·

Die blote feit dat die boot weer regop gekry kon word, is alreeds ‘n groot deurbraak wat die wêreld sekerlik aan die praat het ……. maar die feit dat ‘n Suid-Afrikaanse ingenieur aan die spits van die operasie staan, maak dit vir ons nog meer merkwaardig.

kraalmuur ·

Nou weet ons hoekom SA nie ingenieurs het om ons waterkrisis op te los nie en ons dwing om Kubane te werf.

Dis omdat al ons ingenieurs oorsee besig is om die wereld se probleme op te los en daarvan ‘n beter plek te maak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.