Suid-Afrikaners loop voor in Comrades

Suid-Afrikaners loop voor in die mans-afdeling van vanjaar se Comrades-marathon. Foto:whatsupdurban.com

Ludwick Mamabolo loop tans voor in vanjaar se Comrades-marathon in ʼn stadium waar kommentators verwag dat die voorlopers die wedloop binne die volgende uur sal voltooi.

Mamabolo het die groentjie, Gert Thys wat by die halfpadmerk met meer as sewe minute voorgeloop het, verbygevat. Kenners meen Thys, wat ook die SA-rekordhouer in standaard-marathons is, het te vinnig gehardloop en het teruggesak.

OFM Nuus het berig dat 19 000 atlete om 05:30 in Pietermaritzburg weggespring het. Dit was baie koud en toeskouers en atlete het warm aangetrek. Temperature het egter intussen verbeter. Verkeer is ook druk in die Durban-omgewing en metropolisie moet glo bontstaan om atlete en toeskouers te beheer.

Na verwagting sou die wedloop ʼn tweestryd tussen die Zimbabwiër, Stephen Muzhingi en die Rus, Leonid Shwetsof gewees het, maar dinge het egter anders verloop.

Eleanor Greenwood van die Brittanje loop tans voor in die vroue-afdeling van die wedloop. Die Rus Elena Nurgalieva is ʼn kortkop agter haar. Nog ʼn Rus, Natalia Volgina is in die derde plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.