Suid-Afrikaners maak stem dik in Twee Oseane

David Gadebe Foto: @2oceansmarathon op Twitter

Suid-Afrikaanse langasems het die stem dik aangemaak in vanjaar se Twee Oseane deur in beide die mansafdeling oor die ultra-marathon van 56 kilometer en die halfmarathon koning te kraai.

In die lang wedloop het David Gadebe in ‘n tyd van drie uur, agt minute en 54 sekondes eerste oor die wenstreep gesuiker en R250 000 vir die oggend-uitstappie verdien. In die halfmarathom het nog ‘n Suid-Afrikaner, Stephen Mokoka, vir die ander atlete hakskene gewys.

In die vroue-afdeling van die ultra-marathon het Charene Bosman verras deur die Nurgalieva-tweeling uit te stof, maar nog ‘n Russiese vrou, Natalia Volgina, het eerste die skilderagtige roete voltooi. Biru Mengistu van Ethiopië het in die halfmarathon vir vroue die Kaapse dokter die beste getem.

Volgende jaar sal van die wêreld se voorste langasems na verwagting inskryf, nadat die borg ‘n miljoen rand prysgeld beloof het aan atlete wat korte mette met die baanrekord maak.

Die aantal atlete wat mag inskryf word streng beheer, en meer sterk buitelandse deelnemers sal waarskynlik minder kans bied aan Suid-Afrikaanse deelnemers om die afsnyperk te haal. Die organiseerders van die 44ste agtereenvolgende Twee Oseane-wedloop het vroeër bekend gemaak dat altesaam 26 500 atlete aan die die twee wedlope sou deelneem – 10 000 aan die ultra-marathon van 56 kilometer, en 16 500 aan die halfmarathon. Sowat 11 500 atlete het egter in die ultra-marathon weggespring het.

Altesaam 389 Britse atlete het ingeskryf en verteenwoordig die land naas Suid-Afrika met die meeste deelnemers. Op 15 Januarie, met die tweede rondte-inskrywings, is die beskikbare 6 000 plekke vir deelname aan die halfmarathon binne twee minute opgeraap. Dit was ‘n rekord. Met die eerste rondte inskrywings op 1 Januarie is die beskikbare plekke vir deelname aan die halfmarathon binne twee ure opgeneem, en binne 24 uur is die voltal van 10 000 inskrywings vir die ultra-marathon bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.